Central SA
Thabo Bester, Nandipha eis hof moet uitsending van dokumentêr verbied─── 11:24 Fri, 15 Mar 2024
Hulle voer aan hulle is nooit deur iemand van Showmax ondervra nie en hulle wil die besonderhede van die dokumentêr hê.
’n Dringende hofaansoek is gebring deur die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester en Nandipha Magudumana, wat probeer om die uitsending van ’n dokumentêr te verhoed. Die saak sal vandag in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.
Bester beweer die Showmax-dokumentêr oor sy lewe skend sy regte.
Bester en Magudumana is verlede jaar in Tanzanië in hegtenis geneem ná sy veelbesproke ontsnapping uit die Mangaung-gevangenis in Bloemfontein en haar beweerde betrokkenheid daarby.
Die twee probeer om MultiChoice te verbied om die dokumentêre reeks Tracking Thabo Bester op Showmax uit te saai. MultiChoice wat ’n 70%-aandeel in Showmax het, staan die aansoek teen.

Thabo Bester en sy medebeskuldigdes in die hof. Foto: SAUK-skermgreep
Die SAUK berig Bester en Magudumana se prokureurs het Saterdag aan Showmax geskryf en gevra om kopieë van die dokumentêre reeks te kry. Hulle voer aan hulle is nooit deur iemand van Showmax ondervra nie en hulle wil die besonderhede van die dokumentêr hê.
Bester verwys in die hofdokumente na Magudumana as sy “voormalige vriendin” (ex-girlfriend), waarna talle bespiegel het dat hul verhouding skipbreuk gely het.
Die reeks van vier episodes sal na verwagting vandag begin.
OFM Nuus het in April 2023 tien aflewerings in ’n potgooireeks, Sel 35: Die Thabo Bester-storie, saamgestel. Volg dié skakel om na die reeks te luister: https://bit.ly/OFMSel35
OFM Nuus cg/dg

