On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Ontevredenheid broei in Noord-Kaap oor snoekkwotas

───   12:30 Mon, 25 Mar 2024

Ontevredenheid broei in Noord-Kaap oor snoekkwotas | News Article
Die soldate is tydens Operasie Vala Umgodi in die Noord-Kaap ontplooi om die visbronne te beskerm. Foto verskaf

“Die mense was baie kwaad, want vis is hulle lewe. Die kwotas is eenvoudig nie genoeg nie.”

Aan die vooraand van Paasfees, ’n tradisionele vistyd, heers groot ontevredenheid onder veral bruin vissers.

Op Noord-Kaapse vissersdorpe soos Port Nolloth, Kleinzee en Hondeklipbaai, en selfs op Lambertsbaai in die Wes-Kaap, is vissermanne ontstoke weens beperkings op visvangste.

Weermaglede het Woensdag (20/3) snoek by vissers afgeneem en in die see “teruggegooi”, glo in opdrag van die Departement van Visserye, Bosbou en die Omgewing.

Die soldate het glo bote geïnspekteer en “oortollige” vis in die see teruggegooi. Foto verskaf

*JoJo van Hondeklipbaai vertel die soldate was Saterdag daar. Hulle het glo bote geïnspekteer en “oortollige” vis in die see teruggegooi. “Die mense was baie kwaad, want vis is hulle lewe. Die kwotas is eenvoudig nie genoeg nie.”

Volgens die huidige kwotawetgewing mag vissers daagliks net tien snoeke per persoon vang, het *JoJo bygevoeg.

Kapt. Paul Swartbooi van die Namas het sterk te velde getrek teen die ANC-geleide regering wat die “tradisionele bruin vissers uit die visbedryf wil ‘boender’ ”. 

“Die soldate pas ons snoeke op. Bid jou dit aan! Wat is die situasie of rede dat die mense van Namaland nooit mag eet vanaf en vanuit hulle natuurlike bronne nie?”

Walter Steenkamp, ’n visser van Port Nolloth, stem saam met Swartbooi en reken dat die regering niks vir kleinskaalse vissermanne beteken nie. Sy organisasie vir vissers beoog om die kwotasstelsel van die departement te beveg.

Dawid Markus van Hondeklipbaai, en ’n middelman vir vistransaksies, sê vis is buitengewoon duur.

Die plaaslike organisasie vir vissers beoog om die kwotastelsel van die departement te beveg. Foto verskaf

Vier ongedokumenteerde persone van Lesotho is onlangs met vis van meer as R70 000 betrap tydens Operasie Vala Umgodi, sê Timothy Sam, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. Die soldate is toe ontplooi om die visbronne te beskerm. Die vier sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Inwoners van die kusdorpe kla hulle sukkel om betyds, genoeg bekostigbare vis te bekom vir die Paasnaweek.

(* Skuilnaam)

OFM Nuus/Isaac Cloete cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.