On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Para-atleet van Wesselsbron verbeter rekords

───   HEIDRÈ MALGAS 14:41 Mon, 25 Mar 2024

Para-atleet van Wesselsbron verbeter rekords | News Article
Simphiwe Ditshaba (13), ’n gr. 7-leerling aan die Hoërskool Sandveld, is as die Suid-Afrikaanse kampioen in die T61-klas se 100m gekroon. Foto: Facebook

“Ek het rugby op my stompies gespeel die tyd toe my lemme gebreek het. Ek het my dokter gevra het om vir my harde stompies te maak sodat ek kon aanhou, want ek wou nie opgee nie.”

’n Dapper atleet van Wesselsbron het weereens bewys dat jou omstandighede nie jou toekoms bepaal nie.

Simphiwe Ditshaba (13), ’n gr. 7-leerling aan die Hoërskool Sandveld, was sewe toe hy sy been, regterarm en drie van sy vingers aan sy linkerhand weens septisemie moes laat amputeer nadat hy breinvliesontsteking opgedoen het. Nou is hy ’n Suid-Afrikaanse kampioen.


Ditshaba is as die Suid-Afrikaanse kampioen in die 100 m in die T61-klas gekroon en het ook ’n persoonlike rekord van 16,82 sekondes opgestel tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskap vir Gestremde Atlete, wat verlede week in Bloemfontein plaasgevind het.

“Ek het aan die 200 m, 100 m en spiesgooi deelgeneem. Die 200 m was bietjie rof vir my, maar ek het alles gegee, deurgekom en rekords verbeter,” vertel hy. In die spiesgooi het hy 12,77 m gegooi, die 100 m in 16,82 sekondes voltooi, en in die 200 meter het hy ook ’n nuwe rekord opgestel.

Simphiwe Ditshaba met sy afrigter, Lizelle Olivier. Foto Facebook

Hy sê benewens sport geniet hy dit om tyd saam met sy familie deur te bring, en veral ook saam met juf. Lizelle Olivier, wat hom altyd ondersteun en bystaan. Sy is ook Simphiwe se afrigter.


Sy spoor ander kinders in sy situasie en wat ook aan sport wil deelneem, om nooit moed op te gee nie.

“Ek het rugby op my stompies gespeel die tyd toe my lemme gebreek het. Ek het my dokter gevra het om vir my harde stompies te maak sodat ek kon aanhou, want ek wou nie opgee nie,” vertel Ditshaba.


Ditshaba het in Augustus nuwe lemme by dr. Frans Kleinhans van Bloemfontein gekry, en van daar af moes hy leer hoe om sy sport te benader, waarna hy nuwe rekords begin opstel het.

“Ek sien myself vir Suid-Afrika hardloop en wil graag baie meer goue medaljes wen,” sê hy.


Ditshaba is meer as dankbaar vir sy dokter en sy juffrou; hy sê as dit nie vir hulle was nie, was hy nie vandag waar hy is nie. Hy droom daarvan om eendag een van die wêreld se beste paralimpiese atlete te wees.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.