On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Poskantoor sluit meer takke in Noordwes, Vrystaat

───   09:06 Sat, 30 Mar 2024

Poskantoor sluit meer takke in Noordwes, Vrystaat | News Article
Foto: Google Maps

Die sluitings het in verskeie gevalle reeds tot die vandalisering van poskantore, veral op kleiner dorpe, gelei.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor  sê ’n bykomende 235 poskantore gaan hul deure in 2024 sluit. Meeste van dié takke is in die Vrystaat en Noordwes. Die sluitings sal ook tot afleggings lei.

Dit is onthul in 'n onlangse parlementêre vrae- en antwoordsessie. Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Mondli Gungubele, is gevra of daar enige verwikkelinge is nadat ’n sakereddingsplan in Desember 2023 vir die SA Poskantoor aanvaar is.

Gungubele het geantwoord dat 235 poskantore regoor die land gaan sluit, waarvan die meeste in die Vrystaat en Noordwes geleë is:

Sentrale streek (Vrystaat, Noordwes): 104 poskantore

Noordelike streek (Noord-Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, Noordwes): 41

Westelike streek (Wes-Kaap, Noord-Kaap): 28

Oos-Kaap: 24

KwaZulu-Natal: 21

Gauteng en Vaaldriehoek): 17

Meer as derde van 1 300 takke sluit

Volgens Gungubele kan die sakereddingspraktisyns nie die name van die takke bekend maak nie terwyl onderhandelings met perseeleienaars oor huurkontrakte gevoer word nie.

Hy het bevestig dat personeelafleggings te wagte kan wees maar wou nie kommentaar oor die presiese aantal lewer terwyl die Artikel 189A-fasiliteringproses aan die gang is nie.

Voor die Covid-19-pandemie was daar sowat 1 300 poskantoortakke landwyd, waarvan meer as ’n derde se deure reeds gesluit is of binnekort gesluit gaan word.

Die sluitings het in verskeie gevalle reeds tot die vandalisering van poskantore, veral op kleiner dorpe, gelei.

In ’n video wat op sosiale media versprei is kan gesien word hoe Koster in Noordwes se poskantoor, wat in Desember 2023 gesluit is, gevandaliseer is. Foto: Skermgreep/Facebook

Volgens ’n artikel deur BusinessTech dui verslae deur die Poskantoor daarop dat ongeveer 6 000 werknemers, wat 40% van die arbeidsmag uitmaak, reeds afgelê is met ’n bykomende 7 000 werksgeleenthede op die spel. Die Poskantoor beplan om R1,3 miljard aan jaarlikse salarisse te bespaar as deel van sy sakereddingsplan.

Teen die einde van 2023 het die Poskantoor se sakereddingspraktisyns, Anoosh Rooplal en Juanito Damons, aangedui dat die Poskantoor se laste R12,5 miljard oorskry. “Met slegs R4,5 miljard se bates is die Poskantoor tegnies insolvent.”

'Poskantoor lewer noodsaaklike diens aan ouer mense'

Die regering het weens die noodsaaklike diens wat die Poskantoor lewer, veral aan mense in afgeleë gebiede, ’n reddingsboei van R2,4 miljard begroot en ’n bykomende R3,8 miljard belowe.

Die SA Forum vir Ouer Persone het voorheen aan News24 gesê die sluiting van poskantore op die platteland sal ’n slag vir bejaardes wees wat ekstra reiskostes sal  moet aangaan om hul toelaes te ontvang.

"Baie ouer mense, veral dié in landelike gemeenskappe, reis ver afstande om hierdie toelaes by poskantore landwyd te ontvang. Die regering en taxi-verenigings bied geen subsidies aan om hul stygende reiskoste te demp nie,” sê Kgosietsile Sehularo van die Forum.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.