Central SA
SANW-lid binnekort in hof ná wilde skietery─── HEIDRÈ MALGAS 10:58 Wed, 03 Apr 2024
“Hy het na bewering in ’n kroeg losgebrand en agt mense geskiet.”
’n Soldaat van die Tempe- militêre basis verskyn Dinsdag (9/4) in die landdroshof in Ladybrand vir ’n formele borgtogaansoek. Dit volg nadat hy na bewering in ’n kroeg losgebrand en agt mense geskiet het.
Ellias Nthako die SANW-lid was in ’n rusie betrokke met iemand in die kuierplek in Manyatseng naby Ladybrand en het daarna na sy woonplek in die township gegaan om sy eie pistool te gaan haal. Hy het teruggekeer en na bewering net begin skiet.
‘Hy staan tereg op agt aanklagte van poging tot moord’
Peter Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die 36-jarige verdagte is by sy ouerhuis in Manyatseng in hegtenis geneem. Hy staan tereg op agt aanklagte van poging tot moord. Die polisie het beslag gelê op die vuurwapen.
Die Majoor van Tempe het bevestig die man is ’n lid van 1 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon Bloemfontein. Hy sê die weermag kan in hierdie stadium nie kommentaar lewer oor die voorval nie. Die ondersoek duur voort.
Nthako bly in aanhouding.
OFM Nuus/Heidrè Malgas dg
