Central SA
Kimberley skud sy vere reg vir Wildeklawer─── 13:49 Wed, 03 Apr 2024

"Vanjaar sal ’n rekordgetal van 111 skole deelneem wat 192 spanne en 4 425 afrigters en spelers insluit."
Dis amper weer tyd vir die jaarlikse Absa Wildeklawer-sporttoernooi wat vanjaar vir die 14de keer in Kimberley plaasvind.
Vanjaar se toernooi beloof om selfs merkwaardiger as voorheen te wees, met ’n indrukwekkende getal skole en spanne wat dit sal bywoon.
Vanjaar sal ’n rekordgetal van 111 skole deelneem wat 192 spanne en 4 425 afrigters en spelers insluit. Die deelname van twee oorsese spanne, Kirkham Grammar van Engeland en St John’s College van Nieu-Seeland, maak vanjaar se geleentheid ekstra besonders.
Die hoofrugbywedstryd sal weer by die Hoërskool Diamantveld gespeel word. Foto: Facebook
Die opwinding begin met die laerskole wat van 24 tot 27 April mekaar die stryd aansê, gevolg deur die hoërskole van 1 tot 4 Mei. Dis die tweede jaar wat sokker deel vorm van die toernooi.
Agter die skerms speel die toegewyde pogings van Louis en Cora de Kock, direkteure van Wildeklawer-boerdery, steeds ’n deurslaggewende rol in die toernooi se sukses. Wildeklawer-boerdery is sedert die toernooi se ontstaan in 2009 die hoofborg.
‘Ekonomiese inspuiting vir Kimberley’
Die invloed van die Absa Wildeklawer-sporttoernooi strek verder as sport, want dit beteken ’n aansienlike ekonomiese inspuiting vir Kimberley. Die plaaslike ondernemings floreer danksy die duisende besoekers uit alle uithoeke van die land.
Spoegwolf se konsert op 3 Mei is vanjaar beslis een van die hoogtepunte. Die wedstryde sal op Supersport Schools (DStv-kanaal 216) uitgesaai word.
OFM Nuus/Charné van der Merwe dg