On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Mokala Nasionale Park met 844 hektaar vergroot

───   14:56 Wed, 03 Apr 2024

Mokala Nasionale Park met 844 hektaar vergroot | News Article
Mokala Nasionale Park. Foto: Afristay.com

“Hierdie uitbreiding bied belangrike weiding vir skaars wildbokke en buffels.”

Vier nasionale parke in Suid-Afrika is vergroot danksy die samewerking tussen die Nasionale Parke-trust van Suid-Afrika (NPSA) en die Wêreldnatuurlewefonds (WWF).

Volgens ’n verklaring van WWF het die uitbreiding van vier nasionale parke, met altesaam 20 206 hektaar, op 2 Februarie plaasgevind.

Onder hierdie parke is die Mokala Nasionale Park, wat sowat 80 km suidwes van Kimberley geleë is, en met 844 hektaar uitgebrei is. Hierdie uitbreiding bied belangrike weiding vir skaars wildsbokke en buffels.

Johan de Klerk, parkbestuurder van die Mokala Nasionale Park, het beklemtoon die onlangse proklamasie van 844,2 hektaar vorm deel van ’n parkvergrotingstrategie op lang termyn.

Die Karoo Nasionale Park naby Beaufort-Wes. Foto: Wikimedia

“Hierdie spesifieke gebied word sedert 2015 as deel van Mokala bestuur. Die onderverdeling en proklamasieproses het ’n geruime tyd geneem om te voltooi. Die nuutgeproklameerde gebied voeg ’n beduidende hoeveelheid Kameeldoring- en savanneveld by die park,” sê De Klerk.

Hy sê hierdie uitbreiding dra by tot die groter habitat vir skaars en beskermde spesies soos bastergemsbokke, tsetse en swartwitpense, asook die skep van ’n habitat vir siektevrye buffelbevolkings.

Die Namakwa Nasionale Park. Foto: Velma Fernandes

Die ander drie parke wat uitbreiding ervaar het, sluit in die Namakwa Nasionale Park, wat met 18 391 hektaar vergroot is; die Karoo Nasionale Park naby Beaufort-Wes, wat met 379 hektaar vergroot is; en die Agulhas Nasionale Park, geleë 200 km suidoos van Kaapstad, wat met 574 hektaar vergroot is.

Morné du Plessis, uitvoerende direkteur van WWF, het opgemerk dat die uitbreidingspogings die beskerming van die mees bedreigde spesies en bedreigde habitatte in hierdie parke prioritiseer.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg/dgcg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.