Central SA
Kleuterskool in Kimberley weer oop danksy skenkings─── 08:19 Thu, 04 Apr 2024
“Ons het baie kos van mense ontvang. Dit is hoekom ons besluit het om die kleuterskool weer oop te maak, want dit was een van ons grootste bekommernisse.”
Die kleuterskool in Kimberley wat gesluit is weens ’n inbraak, is weer oop danksy mense se skenkings.
Die Little Angels Crèche moes verlede maand sy deure sluit weens ’n inbraak. Selfs kinders se kos en eetgerei is gesteel.
Toe skole vandeesweek heropen het, was die kleuterskool ook weer oop. Die kinders het danksy skenkings darem speelgoed gehad om mee te speel.
Die beskadigde waterpypaansluitings en deure was die rede waarom die kleuterskool sy deure moes sluit.
Soos voorheen berig, was dit die tweede inbraak by die kleuterskool. Tydens die eerste voorval het hulle die deure gebreek, waarna diefwering geïnstalleer is.

Danksy skenkings kan die kinders weer eet. Foto verskaf
Verskeie mense het ook kos en eetgerei aan die kleuterskool geskenk nadat OFM Nuus daaroor berig het.
Anthea Michael, die skoolhoof van die kleuterskool, het gesê: “Ons het baie kos van mense ontvang. Dit is hoekom ons besluit het om die kleuterskool weer oop te maak, want dit was een van ons grootste bekommernisse.”
Sy het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor al die mense wat skenkings gedoen het.
Die twee dinge wat egter nog nie reggemaak kon word nie, is die gat in die plafon en die waterpype.

