Central SA
Bloemfonteinse sjefs behaal internasionale sukses in Indië – VIDEO’S─── HEIDRÈ MALGAS 13:16 Fri, 05 Apr 2024
“Die beoordelaars het die speserye en smake van die geregte baie geniet, aangesien Indiërs en Suid-Afrikaners daarvan hou om met speserye en geure te eksperimenteer.”
Twee Bloemfonteinse sjefs het met hul uitstaande kook- en bakvaardighede internasionale titels op die Wêreldvoedselkampioenskappe in Indië ingepalm.
Michelle Jansen van Vuuren en Palesa Penjane van die Food and Beverage Institute (FBI) in Bloemfontein het gesamentlik 4 trofeë na die Stad van Rose gebring vanaf Kolkata, Indië.
Jansen van Vuuren het drankies gemeng wat die beoordelaars na meer laat vra het en het die derde plek in miksologie gewen.

Michelle Jansen van Vuuren en Palesa Penjane van die Food and Beverage Institute (FBI) in Bloemfontein. Foto: Heidrè Malgas
Palesa Penjane maak die mooiste koeke wat Suid-Afrika se unieke diversiteit en liefde vir kos verteenwoordig. Sy het die koekversieringskompetisie gewen en was tweede in die kulinêre kompetisie.
Jansen van Vuuren sê sy het ’n gemmer-en-appel-mocktail gemaak, sowel as ’n African Sunset, wat kersiestroop bevat – wat sy self gemaak het – asook vars lemoensap en vodka. Sy sê die beoordelaars was baie beïndruk.
Penjane sê sy het haar koekversiering met kralewerk en blomme voorgestel. Die beoordelaars het gehou van die manier waarop sy haar land verteenwoordig het tussen al die verskillende lande.

Michelle Jansen van Vuuren het ’n skemerkelkie gemaak waar sy 3rd plek miksologie gewen het. Foto: Heidrè Malgas
Die twee sjefs moes elkeen driegang-maaltye voorberei. Jansen van Vuuren se voorgereg was ’n hartlike pampoenpoffer, die hoofgereg was hoenderbobotietortellini, ’n soort gevulde pasta, en haar nagereg was ’n gedekonstrueerde melktert, ’n Suid-Afrikaanse gunsteling.
Penjane se voorgereg was ’n blomkool- en kekerertjiesop. Haar hoofgereg vir die kulinêre kompetisie was hoenderroulade met fondant-aartappels, pampoenpuree en ’n sous. Haar nagereg was ’n sjokolademousse. Hierdie gereg het haar tweede plek in die kompetisie besorg.

Palesa Penjane het die koekversieringskompetisie gewen en was tweede in die kulinêre kompetisie. Foto: Heidrè Malgas
Penjane het genoem dat die beoordelaars die speserye en smake van die geregte baie geniet het, aangesien Indiërs en Suid-Afrikaners daarvan hou om met speserye en geure te eksperimenteer.
Die pryse het die opsie ingesluit om ’n land te kies om hul praktiese werk in te doen, plekke soos onder meer Londen in Brittanje.
