Central SA
Vrystaatse Gesondheid fokus op outisme tydens Bongani-besoek─── HEIDRÈ MALGAS 11:58 Sat, 06 Apr 2024
“Dis belangrik om die spesifieke behoeftes van elke individu aan te spreek en te ondersteun.”
April is Wêreld-outismebewustheidsmaand. Op Vrydag (5/4) het die Vrystaatse Departement van Gesondheid ’n besoek aan die Bongani-streekhospitaal in Welkom benut om die publiek bewus te maak van en op te voed oor outisme.
Woordvoerder Mondli Mvambi het outisme beskryf as ’n toestand wat kinders hiperaktief kan maak en spesiale sorg benodig.
“Kinders wat outisties is benodig toegang tot dienste soos spraakterapie, arbiedsterapie en fisioterapie. Hulle benodig dikwels ook sielkundige en maatskaplike dienste,” het hy verduidelik.
Hy het genoem dat kinders met outisme geleer word om daaglikse gebruiksitems te onderskei deur kleure, teksture, en vorms. Hulle word ook toegerus met allerlei vaardighede.
OFM Nuus het vroeër berig Wêreld-outismebewustheidsdag word elke jaar op 2 April gevier, wanneer bewustheid oor outismespektrumversteurings (OSV) en begrip en aanvaarding van individue met outisme bevorder word.
Blaize Akademie, geleë in Bloemfontein, bied reeds nege jaar gespesialiseerde ondersteuning aan outistiese kinders. Dié akademie het ontstaan uit die unieke behoeftes van hierdie kinders en bied omvattende hulp op verskeie terreine.
Met die begrip dat outisme ’n breë spektrum omvat, beklemtoon Marinda Raubenheimer, skoolhoof en ’n spraak-en-taalterapeut by Blaize Akademie, die belangrikheid daarvan om die spesifieke behoeftes van elke individu aan te spreek en te ondersteun, eerder as om dit op grond van funksioneringsvlakke te kategoriseer.
Die identifisering van outisme by kinders kan verskeie tekens en gedrag behels:
1. Sosiale-interaksie-uitdagings
2. Kommunikasieverskille
3. Herhalende gedrag
4. Sensoriese sensitiwiteit
5. Sukkel met veranderinge


