Central SA
Welkom-man in hegtenis geneem met elektriese toerusting─── HEIDRÈ MALGAS 11:36 Sun, 07 Apr 2024
“ ’n Ondersoek het onthul dat ’n nabygeleë kragboks oopgebreek en gestroop was.”
’n 34-jarige man van Welkom sal op 8 April 2024 voor die Welkom-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
In die vroeë oggendure Saterdag (6/4) het die Welkom K9-Eenheid dié noemenswaardige inhegtenisneming tydens ’n sigbare polisiëringspatrollie in die Doorn, ’n voorstad van Welkom, gedoen. “Omstreeks 00:15 het beamptes ’n man opgemerk wat verdag opgetree het en besluit om hom te stop en deur te soek,” het polisiewoordvoerder, Stephan Thakeng, gesê.
Hy het gesê by nadere ondersoek het die polisie elf dienssmelters, ’n skroewedraaier en ’n hangslot in die individu se besit gevind. Die man, wat nie enige wettige dokumentasie of regverdiging vir die besit van hierdie items kon verskaf nie, is dadelik onder die verdenking van diefstal in hegtenis geneem.
“ ’n Opvolg deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens het onthul dat ’n nabygeleë kragboks, eiendom van die Matjhabeng Munisipaliteit in Zombastraat, oopgebreek en gestroop was,” het hy gesê.

Elf dienssmelters (fuses) is in die verdagte se besit gevind. Foto verskaf
Hierdie daad van vandalisme is direk verantwoordelik vir die kragonderbrekings wat talle huise in die area raak en inwoners sonder elektrisiteit laat.
Die verdagte, ’n 34-jarige man, is deur Sersant Sesing Rakoata en Konstabel David Scott van die Welkom K9-Eenheid in hegtenis geneem.
OFM Nuus cg

