On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Al hoe meer voertuie met spykers op paaie gekaap

───   HEIDRÈ MALGAS 14:17 Thu, 11 Apr 2024

Al hoe meer voertuie met spykers op paaie gekaap  | News Article
Spykers van die voorval op die N4-snelweg in Pretoria. Foto verskaf

Wetstoepassers rapporteer ’n toename in die gebruik van spykers en ander toestelle om die bande van voertuie te deurboor, wat die bestuurder dwing om stil te hou en hulle kwesbaar laat vir diefstal.

In ’n kommerwekkende neiging dwarsoor Suid-Afrika is daar ’n toename in voorvalle waar misdadigers spykers en ander toestelle gebruik om voertuie op paaie tot stilstand te bring.

Die privaat ondersoeker, Mike Bolhuis, sê die primêre motief agter hierdie gevaarlike dade is om insittendes van hulle waardevolle besittings en voertuie te beroof.

“Wetstoepassers rapporteer ’n toename in die gebruik van spykers, skerpgemaakte ysterpenne en stukke metaal om die bande van voertuie te deurboor, wat die bestuurder dwing om stil te hou en hulle kwesbaar laat vir diefstal,” het hy gesê.

‘’n Opgestopte pop … het mense oortuig om stil te hou om te help’

Misdadigers gebruik ál meer gesofistikeerde metodes om hulle rooftogte uit te voer. Hy sê hulle vermom dikwels skadelike toestelle met plastieksakke, lappe of plantegroei, en plaas selfs rotse op die pad, of hang gevaarlike voorwerpe van brûe af om niksvermoedende motoriste so te stop.

“In ’n onlangse kommerwekkende voorval op die N4-snelweg in Pretoria is ’n opgestopte pop op die pad geplaas, wat mense oortuig het om stil te hou om te help, omdat hulle geglo het dit was iemand in die nood,” het hy gemeld.

Motoriste word aangeraai om ekstra versigtig te wees, veral wanneer hulle snags bestuur. Die swak lig en donkerte bied ’n gulde geleentheid vir aanvallers om toe te slaan. Die beperkte sigbaarheid en hoë snelhede op Suid-Afrikaanse snelweë maak dit moeilik vir bestuurders om hierdie gevaartekens betyds op te merk.

‘Plattelandse paaie …  hou ekstra gevaar in’

Plattelandse paaie, dikwels verlate en swak belig, hou ekstra gevaar in.

Om hierdie risiko’s te verminder, word bestuurders aangeraai om verskeie voorsorgmaatreëls te tref:

• Moenie net oor enige voorwerpe op die pad ry nie, insluitend skynbaar skadelose items soos plastieksakke.

• Verander bane voordat jy onder brûe deurry om moontlike strikke te vermy.

• Ry stadiger om die kanse te verbeter om hindernisse betyds te bespeur.

• Wees versigtig vir betonlateie en ander groot voorwerpe. Indien so ’n voorwerp onvermydelik is, ry stadig en versigtig daaroor

• Oorweeg dit om twee bane gelyktydig te gebruik wanneer omstandighede dit toelaat, om sodoende spykers wat moontlik in een baan geplaas is, mis te ry.

‘Gebruik kreatiewe ontsnappingstegniek’

Om hierdie gevare teen te werk, beveel wetstoespaasers verskeie voorkomende maatreëls vir motoriste aan, veral wanneer hulle in gebiede ry wat berug is vir hierdie kriminele aktiwiteite.

• Handhaaf veilige volgafstande: ’n Ses-sekonde-gaping tussen voertuie kan aan bestuurders ’n kritieke buffer bied om te reageer indien die voorste motor op ’n hindernis afkom, óf as iets ongewoon op die pad gebeur.

• Gebruik kreatiewe ontsnappingstegnieke: In gevalle waar dit veilig is, word bestuurders aangemoedig om middelmannetjies te gebruik om van rigting te verander as hulle ’n gevaar voor op die pad sien.

• Noodontwyking: As ’n hindernis skielik verskyn, kan beweging na die noodbaan of op die grasperk, indien beskikbaar, ’n botsing of ’n gevaarlike ontmoeting voorkom.

• Hou by snelheidsbeperkings: Deur die snelheidbeperking na te kom, veral in hoërisikosones, verbeter die bestuurder sy vermoë om hindernisse betyds te identifiseer en te vermy.

• Hantering van spykerhindernisse: Indien ’n voertuig oor ’n spykerstrook ry, is die aanbeveling om stadiger te ry tot ongeveer 30-40 km/h en aan te hou ry na ’n veilige plek, eerder as om skielik op die pad te stop.

‘Ken hoërisikogebiede’

• Vermy dit om jou voertuig te verlaat: Indien jy oor ’n spyker ry of gevaar teëkom, is dit noodsaaklik om in jou motor te bly en na die naaste veilige plek te ry, verkieslik ’n polisiekantoor, selfs al beteken dit jy beskadig jou bande of wielvellings.

• Bly kalm en moet nie betrokke raak nie: Betrokkenheid by of poging om die kriminele te konfronteer hou ’n ernstige risiko in vir persoonlike veiligheid. Die beste optrede is om kalm te bly en interaksie te vermy.

• Onmiddellike rapportering: Sodra jy veilig verby die gevaar is, kan kontak met wetstoepassers help om verdere insidente te voorkom, en sodoende ander motoriste teen skade beskerm.

• Ken hoërisikogebiede: Om ingelig te wees oor hoërisikopaaie en -gebiede binne jou streek is van kritieke belang. Hierdie inligting is gewoonlik beskikbaar in plaaslike publikasies of wetstoepassingsagentskappe.

• Paraatheid: Om seker te maak dat jou selfoon ten volle gelaai is en sy regstreekse liggingeienskap geaktiveer is, veral wanneer jy alleen ry, is ’n uiters belangrike veiligheidsmaatreël.

Hierdie riglyne is opgestel in reaksie op die groeiende gesofistikeerdheid en vermetelheid van misdadigers wat motoriste teiken. Deur ingelig te bly en hierdie veiligheidsmaatreëls toe te pas, kan bestuurders hul risiko om slagoffers van hierdie gevaarlike en lewensbedreigende skemas te word aansienlik verminder.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.