Central SA
Kimberley se klein vegtertjie herstel goed─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:31 Fri, 12 Apr 2024
“Daar is bevind dat Estél se slukderm ses rugwerwels van haar maag af is. Sy het ook ‘n kateter in haar maag gekry vir voeding, wat op ses weke met ‘n voedingsbuis vervang is.”
Sy is vandag net nege maande oud, maar haar pad tot hier was nie altyd maklik nie.
Sy het al reeds twee operasies ondergaan nadat sy met ‘n verkorte slukderm gebore is. Maar, vandag is Estél von Molendorff ’n gelukkige, gesonde babadogtertjie – ’n klein vegtertjie.
‘Moontlike probleem met haar slukderm’
Met haar 32 weke opvolgbesoek by die dokter het Christel von Molendorff, Estél se ma, gehoor dat sy ‘n oormaat vrugwater het wat moontlike komplikasies aandui. Verdere toetse het kommer oor Estél se maagontwikkeling aan die lig gebring, wat op ’n moontlike probleem met haar slukderm gedui het.
Toe Christel egter 35 weke swanger was, het die dokters die moeilike besluit geneem om haar na Bloemfontein te verwys vir gespesialiseerde sorg.

Daar is bevind dat Estél se slukderm ses rugwerwels van haar maag af is. Foto verskaf
Estél is toe op 36 weke, op 20 Junie 2023, met ’n noodkeisersnee gebore. Twee dae ná haar geboorte het sy al haar eerste operasie ondergaan om die aard van haar slukderm te bepaal. Die daaropbolgende weke was belaai met onsekerheid.
Estél het 36 dae in die waakeenheid deurgebring. Dokters het vasgestel dat Estél se slukderm ses rugwerwels van haar maag af is. Sy het ook ‘n kateter in haar maag gekry vir voeding, wat op ses weke met ‘n voedingsbuis vervang is.
‘Sy moes op ses maande weer geopereer word’
In November 2023 was Estél vir ‘n ondersoek om te kyk of sy al sterk genoeg is vir die tweede operasie. Die eerste operasie het bepaal dat sy op ses maande die tweede operasie sou kry.
Sy het toe op 18 Januarie vir die prosedure ingegaan, bekend as 'n maagoptrek, 'n komplekse maar noodsaaklike stap na Estél se herstel.

Estél von Molendorff. Foto verskaf
Die tyd ná die operasie was nie sonder uitdagings nie, maar tekenend van die klein vegtertjie wat sy is, het sy haar mylpale oortref en elke dag herstel. Volgens Christel is daar ‘n moontlikheid dat die slukderm kan vernou, maar sedert hul opvolgafspraak by die chirurg dr. Esme le Grange, het sy opgemerk dat Estél merkwaardige vordering toon.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mc
