On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

Piet Els-moordsaak weer uitgestel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:41 Wed, 17 Apr 2024

Piet Els-moordsaak weer uitgestel | News Article
Rikkie Alsemgeest en Piet Els. Foto verskaf

“Hulle is in die hoofslaapkamer oorval en met ’n strykyster gebrand.”

Die saak van die sewe beskuldigdes wat tereg staan vir die moord op ’n sakeman van Kimberley is weer uitgestel. 

Die diamantsakeman Piet Els (86) en sy vriendin, Rikkie Alsemgeest (toe 68), is op 24 Januarie 2018 op Els se plaas aangeval. Hulle is in die hoofslaapkamer oorval en met ’n strykyster gebrand. Els is 111 dae ná die aanval in die hospitaal dood en Alsemgeest het veelvuldige beserings opgedoen.

‘Regsverteenwoordiger was ongesteld en saak is uitgestel’

“Die staat sou Maandag (15/4) met sy betoë begin, maar een van die regsverteenwoordigers was ongesteld en die saak is uitgestel,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder. Die saak is voorheen vertraag, nadat een van die ander regsverteenwoordigers hom aan die saak onttrek het. 

Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n 30-30-Winchester-geweer.

Die  beskuldigdes in die hof in Kimberley. Foto: DFA

Hulle is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela, en Jabulani Zuma (62), van Mtubatuba.

Die staat het in Oktober aangevoer die beskuldigdes het uit drie groepe bestaan. Zuma, een van oudpres. Jacob Zuma se seuns, het glo in Januarie 2018 van sy huis in KwaZulu-Natal na Mbombela gery. Daar het hy vier medebeskuldigdes opgelaai en na Kimberley gereis, waar hulle na Amos Ralihlare, ’n tradisionele geneser, se huis is. Drie Sothosprekende mense het by hulle aangesluit.

Die groep van Mpumalanga moes glo ’n ritueel uitvoer. Van daar is vier mans na Els se plaas, waar hy en Alsemgeest aangerand en van horlosies, Krugerrande en diamante beroof is. Die verdagtes het met Els se wit Mercedes-Benz weggekom, maar die motor is later verlate op die R31 by Phuthanang naby Kimberley gevind.

Die nuwe datum vir die slotbetoë sal op 29 April bekendgemaak word.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.