On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vyf in hof in Noordwes vir ontvoering, huisroof

───   ZENANDE MPAME 12:16 Mon, 29 Apr 2024

Vyf in hof in Noordwes vir ontvoering, huisroof | News Article
Foto: OFM Nuus

“Hulle het haar 19-jarige seun ontvoer en ook sy selfoon gesteel.”

Drie Mosambiekse burgers en twee Suid-Afrikaners sal Maandag (29/4) in die landdroshof in Stilfontein en Orkney verskyn vir ontvoering, huisroof, afpersing en die onwettige besit van vuurwapens.

Hul inhegtenisneming spruit uit ’n voorval wat Donderdag (25/4) plaasgevind het toe vier gewapende mans by ’n huis in Uitbreiding 6, Khuma, ingebreek het. Nadat hulle na bewering ’n vrou gedreig het, het hulle glo R6 500 kontant gesteel. Hulle het haar 19-jarige seun ontvoer en ook sy selfoon gesteel.

Die saak is by die polisie aanhangig gemaak. Hulle het na bewering die seun se selfoon gebruik om die gesin te bel om ’n losprys te eis. Met die hulp van gyselaarsonderhandelaars is die bedrag van die losprys verminder.

‘Twee verdagtes is in hegtenis geneem’

“Die span het gewag totdat ’n man gesien is wat van ’n paneelklopper se werkswinkel gestap het en toe die geld gevat en teruggehardloop het,” sê Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.

’n Multidissiplinêre span het Vrydag (26/4) twee verdagtes in hegtenis geneem. Die staatsgeld wat as losprys gebruik is, is teruggekry en beslag is gelê op ’n silwer Volkswagen GTI wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is.

Verdere ondersoeke het die polisie na Uitbreiding 3, Alabama, gelei waar twee mans uit ’n wit Toyota Camry geklim en weggehardloop het toe hulle die polisie sien. ’n Jaagtog het gevolg en die polisie het hulle aangekeer nadat een van hulle in die been geskiet is.

‘Die beseerde verdagte is onder polisiebewaking’

“Die ontvoerde slagoffer se selfoon is in die voertuig ontdek terwyl die slagoffer ongedeerd in die kattebak van die Camry gevind is,” sê Mokgwabone. “Die beseerde verdagte is in die hospitaal onder polisiebewaking.”

By ’n huis in Uitbreiding 13, Kanana, het die polisie beslag gelê op twee pistole en ’n rewolwer waarvan almal se reeksnommers afgevyl is. ’n Verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van vuurwapens.

“Die gesin se gesteelde Toyota Corolla is verlate gevind in Uitbreiding 2, Jouberton, naby Rex Flats,” sê Mokgwabone. “Die polisie moet nog bevestig of die Mosambiekse burgers wettig in die land is.”

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.