On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Nolwethu
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Vier verdagtes in hof ná SUT-student se dood

───   ZENANDE MPAME 12:25 Wed, 17 Apr 2024

Vier verdagtes in hof ná SUT-student se dood | News Article
Vier verdagtes sal in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Foto: OFM

“Sake van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer is by Parkweg se polisiekantoor aanhangig gemaak.”

Vier verdagtes sal Donderdag (18/4) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn vir ’n formele borgaansoek op aanklagte van moord en aanranding ná die dood van ’n student van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein.

Tumelo Monyane (27), Thabang Mabesa (25), Neo Molefe (23) en Thato Mahlomela (20) het Donderdag (11/4) hul eerste hofverskyning gemaak, nadat hulle onmiddellik ná die aanval twee dae vantevore in hegtenis geneem is.

“Dit is diep tragies dat die lewe van ’n jong persoon so voortydig beëindig is en nog ’n jong persoon ernstig beseer is. Die universiteit beskou hierdie voorval in ’n baie ernstige lig,” het Seithathi Semenokoatsane, SUT-woordvoerder, gesê.

Thato Molaudi, die onderwysstudent wat doodgesteek is. Foto verskaf.

“Die universiteit onderneem om steeds nou saam te werk met sy beskermingsdienste, die SAPD en ander veiligheidsvoorsieners in die gebied om maniere te vind om veiligheid vir ons studente in die besonder en die gemeenskap in die algemeen op te skerp.”

Thato Molaudi (19), ’n onderwysstudent in sy eerste jaar, is Dinsdagoggend (9/4) in King Edwardstraat doodgesteek. Hy was op pad kampus toe om tou te staan sodat hy sy NSFAS-toelae kon verifieer.

GroundUp berig ’n onderwysstudent in sy derde jaar, Lerato Khobeni, is ook die oggend gesteek. Hy is in die hospitaal behandel en ’n paar dae later ontslaan.

‘Dit was ’n groot tragedie vir die universiteit’

“Dit was ’n groot tragedie vir die universiteit. Hierdie studente beliggaam die waardes en doelwitte wat ons by al ons studente wil tuisbring. Ons betuig ons innige meegevoel aan die oorledene se familie, fakulteit en vriende,” het Pamela Dube, vise-kanselier en prinsipaal van die SUT, gesê.

“Die universiteit was in aanraking met die naasbestaandes van die betrokke studente en al die nodige ondersteuning word deur die betrokke kantore van die universiteit aan hulle gebied.”

Molaudi se tante het gesê die gesin is verpletter. Hy het pas begin om sy droomkursus te studeer. GroundUp berig dat hy verder daarvan gedroom om ’n rapper te word.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.