On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstromer wil ander met prosteses help – VIDEO

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Thu, 18 Apr 2024

Potchefstromer wil ander met prosteses help – VIDEO | News Article
Ian Thomson. Foto verskaf

Sy ouers het aansienlike skuld aangegaan om hom beweeglik te maak.

Nadat sy regterbeen in 2011 ná ’n motorfietsongeluk net bokant sy regterknie geamputeer is, het ’n man van Noordwes eerstehandse ervaring gekry in die wêreld van prostetika, asook die struikelblokke wat individue in soortgelyke omstandighede moet oorkom.

Die verlies van sy been het nie net ’n groot uitwerking op sy lewe gehad nie, maar was ook ’n emosionele reis vir die mense naaste aan hom, vertel Ian Thomson (29), wat in die Fakulteit Ingenieurswese van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus werk.

Die manier waarop mense hom begin behandel het, was ook ’n groot aanpassing. “Baie mense het onseker gevoel oor hoe om my te hanteer en ander het my jammer gekry, wat dikwels meer ontmoedigend as ondersteunend gevoel het.”

Eerste konsepte wat deur ’n driedimensionsionele drukker gedoen is, waarop Thomson in die video loop. Foto verskaf

Dit het hom laat besef hoe belangrik dit is om bewustheid te skep oor die uitdagings wat mense met liggaamlike gestremdhede die hoof moet bied, en om stereotipes en vooroordele in die samelewing te bowe te kom.

Hierdie ervarings het hom ook geïnspireer om hom te beywer vir die ontwikkeling van bekostigbare prosteses. “Ek wil hê mense moet verstaan dat met die regte ondersteuning en toegang tot gepaste hulpbronne, kan individue met gestremdhede ten volle deelneem aan alle fasette van die lewe.”


Thomson het persoonlike ervaring van die hoë koste van prostese, veral in Afrika, nadat sy ouers aansienlike skuld aangegaan het om hom beweeglik te maak. Volgens Thomson kan pryse tot R1 miljoen vir ’n gevorderde model beloop.

Wat dit vererger, is as enige herstelwerk of dienswerk nodig is, word die prostese teruggestuur, wat nie net duur is nie, maar ook onprakties aangesien dit die gebruiker vir ’n tydperk sonder noodsaaklike mobiliteitshulp laat.

Hierdie uitdagings het Thomson geïnspireer om by die Noordwes-Universiteit (NWU) te werk aan die ontwikkeling en navorsing van meer bekostigbare prostetiese oplossings, wat spesifiek ontwerp is vir die mense en omstandighede van Afrika. Dit gaan alles gedoen word by die universiteit se ingenieurswese fakulteit.

Thomson en sy span beplan om verder uit te brei as beenprostese en om navorsing en die ontwikkeling van prostetiese arms in te sluit. Foto verskaf

“Ons skep prosteses wat finansieel toeganklik is en gebou om duursaam te wees in ons plaaslike omgewing. Dit behels die gebruik van plaaslik beskikbare materiale en tegnologieë wat maklik herstel en onderhou kan word binne ons gemeenskappe.

“Deur prosteses plaaslik te vervaardig kan ons die koste verminder en die gemeenskap bemagtig deur werkgeleenthede te skep en plaaslike kundigheid op te bou. Dit is ’n projek wat nie net die fisieke mobiliteit van individue verbeter nie, maar ook bydra tot die sosiaal-ekonomiese ontwikkeling van ons gemeenskappe.

“Dit is my doel om te verseker dat niemand anders dieselfde finansiële stryd hoef deur te gaan om toegang tot noodsaaklike prostetiese toestelle te kry nie,” vertel Thomson.

Thomson en sy span gaan in Oktober aan die Cybathlon deelneem, ’n projek wat dien as ’n platform wat spanne van dwarsoor die wêreld uitdaag om ondersteunende tegnologieë te ontwikkel wat geskik is vir alledaagse gebruik met en vir mense met gestremdhede.

“Ons span fokus op beenprosteses en neem deel aan uitdagings wat werklike scenario’s van trapklim tot ongelyke terreine weerspieël. Deelname bied ’n kans om ons innoverende prostetiese ontwerp te belig, wat Afrika se vermoë demonstreer om impakvolle tegnologie te produseer ten spyte van beperkte hulpbronne.

“Ons poog nie net om mee te ding nie, maar ook om vennootskappe te smee en befondsing vir verdere ontwikkeling te verseker. Deur Cybathlon poog ons om die potensiaal vir toeganklike oplossings met globale samewerking en ondersteuning uit te lig.”

Die 3D-konsep is verder ontwikkel is tot hierdie ontwerp. Foto verskaf

Hulle beplan om elke vier jaar mee te ding en verder uit te brei as beenprostese en om navorsing en die ontwikkeling van prostetiese arms en rolstoele vir toekomstige Cybathlon-kompetisies in te sluit.

Thomson vertel hul doelwit is om ’n omvattende reeks toeganklike en bekostigbare hulpmiddels van hoë gehalte aan te bied om die daaglikse lewens van mense met verskeie gestremdhede te verbeter.

Die span van die Fakulteit Ingenieurswese van die NWU se Potchefstroomkampus wat saamwerk aan die ontwikkeling en navorsing van meer bekostigbare prostetiese oplossings. Foto verskaf

Thomson se raad aan iemand wat dieselfde pad as hy stap, is om gereeld te oefen. Hy beklemtoon ook die belangrikheid daarvan vir beide fisiese herstel en geestelike welstand. 

“Deur gereeld te beweeg, kan jy jou liggaam help aanpas by die prostese en jou algemene krag en uithouvermoë verbeter. Dit klink dalk cliché, maar die krag van ’n positiewe ingesteldheid kan nie onderskat word nie.

‘Soek na die silwer randjie; vier klein oorwinnings’

“In uitdagende tye is dit jou perspektief wat dikwels die grootste verskil kan maak. Soek na die silwer randjie, vier klein oorwinnings, en onthou dat elke stap vorentoe, maak nie saak hoe klein nie, ’n stap in die regte rigting is.”

Thomson moedig mense aan om beskikbare hulpbronne soos ondersteuningsgroepe en mediese sorg te gebruik, asook tegnologiese hulpmiddels. “Moenie huiwer om hulp te vra nie en wees proaktief om oplossings te soek wat jou situasie kan verbeter.

“Onthou, jou ervarings kan ’n unieke perspektief gee om ander te help. Jy het ’n moeilike pad gestap en dit oorwin; jou insigte en empatie kan ’n kragtige bron van ondersteuning vir ander wees wat soortgelyke uitdagings in die gesig staar.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe  cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.