On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Health

Beskerm jou gesin dié winter so teen griep

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:56 Thu, 25 Apr 2024

Beskerm jou gesin dié winter so teen griep | News Article
Foto: Condair.com

“Die entstof kan op selfs net ses maande ontvang word en dis van kardinale belang dat mense wat babas jonger as ses maande het, die entstof kry.”

Dis weer daardie tyd van die jaar: sneesdoekies en rooi neuse net waar jy kyk. Met die winterseisoen nou in volle gang, is verkoue en griep aan die orde van die dag.

In Suid-Afrika eis dié virale plaag jaarliks tussen 6 000 en 11 000 lewens. Tog verwar baie mense die gewone verkoue met griep, waarsku dr. Chantelle van der Bijl, oftewel Bloem MomDoc op sosialemediaplatforms.

“Griep kan vererger tot ernstige gesondheidskomplikasies soos longontsteking of bakteriële infeksies, wat lei tot hospitalisasie en, in sommige gevalle, die dood. Sekere individue met onderliggende gesondheidstoestande het ’n groter risiko vir griepverwante komplikasies.”


Sy vertel daar is drie soorte seisoenale griep: A, B en C. Tipe A-griepvirusse word verder in subtipes getipeer volgens verskillende soorte en kombinasies van virusoppervlakproteïene. Onder baie subtipes van griep A-virusse sirkuleer tans A(H1N1) en A(H3N2) subtipes onder mense. “Tipe C gevalle kom baie minder gereeld voor as A en B.”

Griepsimptome duik gewoonlik een tot vier dae ná infeksie op, met koors, gewoonlik bo 38° C, hoes, keel- en lyfseer. Dit kan lei tot hoofpyn, moegheid, spierpyne, kouekoors, braking en diarree.

Volgens Van der Bijl is die beste manier om griep te behandel hoofsaaklik deur om die simptome met pyn- en koorsmedikasie te behandel asook genoeg vloeistofinname, rus en warmte. “Kinders onder 18 moenie aspirien gebruik nie. Aangesien antibiotika ondoeltreffend teen virusse blyk, kan antivirale medikasie voorgeskryf word, maar hul doeltreffendheid hang af van vroeë toediening.”

Hoewel daar maniere is om griep te voorkom, soos handhigiëne en die vermindering van kontak, is die inenting ’n uiters doeltreffende strategie, sê Van der Bijl.

“Jaarlikse inenting teen seisoenale griep is uiters belangrik. Die griepentstof bevat drie of vier verskillende soorte geïnaktiveerde griepvirusse of dele van daardie virusse wat subeenhede genoem word. Inaktivering beteken die virusse is verander (doodgemaak) en kan jou nie siek maak nie.

“Die griepinspuitingsvirusse word genoem na die jaar wat hulle gevind is en die plek waar hulle gevind is. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel jaarliks aan watter stamme die algemeenste is en by die entstof ingesluit moet word. Die WGO beveel die drie-stam-entstof vir 2024 aan.

“Die entstof kan op selfs net ses maande ontvang word en dis van kardinale belang dat mense wat babas jonger as ses maande het, die entstof kry.”

Uitsonderings sluit in dié met ernstige entstofreaksies. Swanger individue word sterk aangemoedig om in te ent, wat passiewe immuniteit aan pasgeborenes verleen. Individue met verkoue- of griepsimptome kan steeds ingeënt word as hulle koorsvry is. Die gebruik van antibiotika sluit nie inenting uit nie.

“Die entstof is ongeveer 60%-doeltreffend in gesonde volwassenes. Dit beskerm veral teen griepvirusse, nie ander wintervirusse soos Covid-19 nie. Geringe newe-effekte, soos geringe koors en pyn waar jy ingespuit is, kan voorkom, wat die wanopvatting uit die weg ruim dat die entstof die siekte veroorsaak.”

Volgens Van der Bijl is die griepentstof vir 2024 is reeds beskikbaar, maar in groot aanvraag.

Sy moedig egter almal aan om dit te kry.

• Met hierdie berig wil OFM Nuus nie enige siekte diagnoseer of behandeling daarvoor voorstel nie. Raadpleeg jou gesondheidspraktisyn vir deskundige raad.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.