On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse prokureur se familie soek antwoorde ná sy moord

───   HEIDRÈ MALGAS 12:00 Fri, 10 May 2024

Bloemfonteinse prokureur se familie soek antwoorde ná sy moord | News Article
Jesse Seekoei (26) sou oor drie maande na Amerika verhuis het. Foto Facebook

Jesse Seekoei (26) sou oor drie maande na Amerika verhuis het om aan ’n Meestersgraad in Regte te werk.

Die naasbestaandes en vriende van ’n jong prokureur van Bloemfontein soek antwoorde en geregtigheid nadat hy in ’n gewilde kuierstraat doodgesteek is. Jesse Seekoei (26) sou oor drie maande na Amerika verhuis het om aan ’n Meestersgraad in Regte te werk, sê sy vriend Ryan Christians. Seekoei se lewe is op 26 April tragies kortgeknip.

#JusticeForJesse was gewild op sosiale media nadat vriende en familie ditgeskep het wat ’n deeglike ondersoek na die saak eis. Sy pa, Vernon Seekoei, het in sy brief aan die polisie genoem dat hulle ’n regverdige ondersoek na die omstandighede rakende sy seun se moord eis. 

‘Ons kan nie dat sulke dade van geweld ongestraf bly’

Hy het ook die gemeenskap se ondersteuning aangemoedig om vorentoe te kom met enige inligting of leidrade wat kan help in die ondersoek en inhegtenisneming van die oortreders. “Saam moet ons verenig in ons besluit om teen sulke brutale moorde in ons gemeenskappe te veg. Ons kan nie toelaat dat sulke dade van geweld ongestraf bly nie,” lees die pleidooi vir Seekoei.

Jesse Seekoei was baie lief vir sokker. Foto Facebook

Christians sê daar word beweer dat een van Jesse se vriende se fone gesteel is en Jesse, die beskermer wat hy was, het in ’n geveg met die oortreder betrokke geraak. Die besonderhede van wat daardie dag gebeur het, is steeds onduidelik en word deur die polisie ondersoek. ’n Saak van moord is aanhangig gemaak, sê Thabo Covane, polisiewoordvoerder.

Christians het beweer van ’n vriend van Jesse wat blykbaar die oortreder ken. Hierdie vriend het glo voorheen items van Jesse gesteel aangesien die vriend betrokke was by verkeerde dinge. “Soos die geveg nou losgebars het, het ’n persoon uit nêrens verskyn en Jesse direk in sy hart gesteek, toe het Jesse oor die straat geloop. Hy het na die kant van die stadion se swembaddens geloop en toe gesterf,” beweer Christian.

Covane sê in hierdie stadium ondersoek die polisie beeldmateriaal van ondernemings naby die toneel.

‘Hierdie skielike vertrek het ’n leemte gelaat’

Seekoei het die dag van sy seun se afsterwe as volg beskryf: “Hierdie skielike vertrek het ’n leemte gelaat wat nooit gevul kan word nie, en ons vind troos net in die kosbare herinneringe wat ons na aan die hart lê.

“Jesse was meer as ’n seun; hy was ’n straal van lig, wat vreugde en vriendelikheid uitgestraal het aan almal wat hom geken het. Sy lag het deur ons lewens weergalm, warmte gebring selfs op die koudste dae. Sy afwesigheid laat ’n onuitwisbare merk op ons hart.”

Die oudleerder van Grey Kollege was mal oor gimnastiek en sokker. Foto: Facebook

Jesse het uitgesien om in Amerika aan die Universiteit van Kansas verder te studeer. Hy was oorstelp van vreugde oor die vooruitsig om hierdie nuwe hoofstuk in sy lewe te begin en het uitgesien na die aanvang van sy studie in Augustus.

Die oudleerder van Grey Kollege het uitgeblink in gimnastiek en sokker, volgens sy huldeblyk. "Sy passie en liefde vir sokker was ongeëwenaard, en op die ouderdom van 13, is hy gekies om Suid-Afrika in Engeland te verteenwoordig vir proewe by Bolton Wanderers FC."

Daar word genoem dat Jesse met trots CelticS in die Macufe Beker verteenwoordig het, en sy talent teenoor die gedugte Kaizer Chiefs ten toon gestel het. Buiten sy sportprestasies, was Jesse ook 'n toegewyde student. Hy was in die proses om sy klerkskap by Honey Prokureurs te voltooi.

OFM Nuus/ Heidre Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.