Central SA
‘Liezel se saak sal nie saam met beskuldigde sterf nie’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:01 Sat, 11 May 2024
“Ons sal nie toelaat dat Liezel se saak saam met Werner sterf nie. Ons sal vir haar familie bly baklei totdat hulle die antwoorde kry waarvoor hulle al sedert 2021 wag.”
Action Society was Vrydagoggend by die landdroshof in Amanzimtoti waar die organisasie se stryd vir geregtigheid vir ds. Liezel de Jager voortduur.
Die predikantvrou is op 13 Oktober 2021 aan die KwaZulu-Natalse suidkus in haar oprit vermoor. Sy is verwurg en haar keel is gesny. De Jager was ten tye van haar moord verbonde aan die NG Kerk se Suidkus-gemeente.
Haar man, Werner de Jager, is 863 dae ná die moord, op 23 November 2022, weens haar moord in hegtenis geneem.
“Ons is dankbaar dat vordering in die ondersoek gemaak word,ondanks moeilike omstandighede,” sê Juanita du Preez, woordvoerder van Action Society. “Die saak is tot 10 Junie uitgestel vir verdere ondersoek. Dit sluit in om Werner se doodsertifikaat te bekom.”
OFM Nuus het vroeër berig dat Werner, sowat twee jaar ná De Jager se dood, op 15 April dood aangetref is. Hy het vermoedelik sy eie lewe geneem in die Westville-gevangenis, waar hy verhoorafwagtend was.
Ondanks dié struikelblok sal Action Society met hul stryd om geregtigheid voortgaan, het Du Preez gesê. “Ons sal nie toelaat dat Liezel se saak saam met Werner sterf nie. Ons sal vir haar familie bly baklei totdat hulle die antwoorde kry waarvoor hulle al sedert 2021 wag.”
Nadat hy op 5 Februarie om borgtog aansoek gedoen het, is dit op 22 Februarie van die hand gewys. Hy was sedertdien nog nie weer in die hof nie omdat sy regspan onttrek het en hy om regshulp moes aansoek doen. Sy volgende hofverskyning sou op 10 Mei gewees het.
In hierdie tyd het dit ook aan die lig gekom dat Werner verantwoordelik was vir nog twee mense se dood. Berniece Eales (84) en haar skoondogter Linda Eales (54) van Kempton Park is op slag dood in ’n ongeluk op 15 April verlede jaar naby die Koppies-afrit op die N1 in die Vrystaat.


