On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse LUR met spesiale verlof vir gereelde afwesigheid en geldmisbruik

───   HEIDRÈ MALGAS 15:20 Fri, 17 May 2024

Vrystaatse LUR met spesiale verlof vir gereelde afwesigheid en geldmisbruik  | News Article
Free State Department of Sport, Arts, Culture and Recreation, Limakatso Mahasa. Foto: Facebook

“Die mislukking van die Thaba Nchu Vryheidsdag-geleentheid op 4 Mei het die departement, en by implikasie die Vrystaatse provinsiale regering, oneer aangedoen.”

Die Vrystaatse premier het die LUR vir Sport, Kuns en Kultuur aangesê om tot einde vandeesmaand met spesiale verlof te gaan weens beweerde misbruik van geld deur haar departement en gereelde afwesigheid sonder verlof.

Mxolisi Dukwana het die besluit geneem ná ’n vergadering tussen hom en Limakatso Mahasa op 9 Mei, waar dit duidelik geword het dat haar gereelde afwesigheid sonder verlof ’n beduidende leemte in leierskap in die departement veroorsaak het.

Boonop het die mislukking van die Thaba Nchu Vryheidsdag-geleentheid op 4 Mei die departement, en by implikasie die Vrystaatse provinsiale regering, oneer aangedoen. Dit is beklemtoon in ’n verklaring wat deur die Premierskantoor uitgereik is.

‘Die premier oorweeg om Tshabalala met spesiale verlof te laat gaan’

Die verklaring dui ook aan dat die premier ’n geskrewe verduideliking van die departementshoof, Steve Tshabalala, versoek het aangaande die gebeure rondom die Vryheidsdag-seremonie. Die premier oorweeg ook om Tshabalala met spesiale verlof te laat gaan vir pligsversuim as rekenpligtige beampte.

Mahasa is met spesiale verlof van 16 tot 31 Mei. Sy het Tshabalala geskors vir sy weiering om te voldoen aan ’n opdrag om die 4 Mei-geleentheid in die Mmabana-stadion in Thaba Nchu, getiteld “Celebrating 30 years of Democracy,” uit te stel. Hierdie besluit het gelei tot koste wat verband hou met die mislukte geleentheid, soos aangedui in ’n formele brief van die departement.

’n Ondersoek is van stapel gestuur teen Tshabalala vir die beweerde misbruik van fondse, en hy sal ’n tugverhoor ondergaan. Luidens berigte het die geleentheid die departement sowat R3 miljoen uit die sak gejaag, maar geen lewende siel het dit bygewoon nie.

‘’n Miernes van korrupte aktiwiteite’

Die enigste rede waarom soveel koppe nou rol, sê Armand Cloete, Vrystaatse VF Plus-wetgewerlid, is omdat iemand binne die ANC moontlik ontstig is omdat hulle nie by die R3 miljoen se betaling vir die Vryheidsdagvieringe baat gevind het nie.

“Soos by talle ander Vrystaatse departemente, is die departement van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning ’n miernes van korrupte aktiwiteite,” sê Cloete. 

“Van die kunstefees Macufe, waarvoor Vrystaters jaarliks miljoene moes opdok, terwyl die fees geen wins getoon het nie, tot ’n sportkonfederasie waar individue vir hulself Covid-19-bonusse uitbetaal het. Die ondersoek na die bonusse duur op versoek deur die VF Plus voort.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.