Central SA
Vrystaatse polisie keer 4 verdagtes aan─── 08:40 Sat, 18 May 2024

Verskillende bankkaarte en ’n moontlike kaart-swendelary-toestel is in die huurmotor gekry.
Die SAPD Lughawebevelvoerder by Bram Fischer Internasionale Lughawe buite Bloemfontein het Woensdag (16/5) inligting van ’n voertuigverhuringsmaatskappy, wat by die lughawe gehuisves is, ontvang oor ’n voertuig wat sonder toestemming gebruik word.
Die bewering is dat ’n blou Renault-voertuig Maandag (13/5) na die huurplek terugbesorg moes word, maar die bestuurder het nooit opgedaag nie. Die voertuig is opgespoor en in Zeerust, Noordwes, opgemerk.
Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die persoon wat die voertuig gehuur het, voorheen by ’n saak van onwettige besit van vuurwapens betrokke was. Lede van Zeerust se K9-eenheid het op die inligting gereageer. Die voertuig is opgespoor en vier verdagtes is aangekeer.
Terwyl die voertuig deursoek is, is verskillende bankkaarte en ’n moontlike kaart-swendelary-toestel gekry en die vier mans, tussen die ouderdomme van 29 en 32, is vir bedrog en kaart-swendelary in hegtenis geneem. Ondersoeke is aan die gang om dieselfde verdagtes te verbind met nog bedrogsake wat in die Vrystaat aangemeld is.
OFM Nuus cg