Central SA
Twee polisiebeamptes neem hul eie lewe─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:35 Mon, 20 May 2024
“Syfers wat Bheki Cele, minister van Polisie, in 2022 uitgereik is, werp lig op ’n kommerwekkende tendens binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Van 2017 tot 2022 het die SAPD 284 beamptes aan selfmoord en moord-selfmoordvoorvalle afgestaan.”
Twee polisielede van Noordwes is oorlede nadat hulle glo die naweek selfdood toegepas het.
’n Adjudant-offisier (58), verbonde aan die Mahikeng-eenheid vir openbare orde in Dithakong, het na bewering sy vrou (46) doodgeskiet en toe die vuurwapen op homself gerig, sê brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder. Die voorval het Saterdag (18/5) in die vroeë oggendure plaasgevind.
Die Lomanyaneng-polisie het ’n saak van moord geopen en ’n geregtelike doodsondersoek duur voort. Volgens Mokgwabone is die egpaar in hul slaapkamer gevind.
Die vrou is op die toneel dood verklaar terwyl die man na die Mahikeng Provinsiale Hospitaal geneem is vir mediese behandeling. Hy is egter in die hospitaal dood verklaar. Die motief vir die voorval is nog onbekend.

Foto: iStock
’n Luitenant-kolonel (50) verbonde aan die provinsiale taktiesereaksiespan in die Dr. Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit het homself na bewering Sondagoggend (19/5) langs die New Machavie-pad buite Potchefstroom doodgeskiet.
Mokgwabone sê geen misdaad word vermoed nie en ’n geregtelike doodsondersoek duur voort.
Lt.genl. Sello Kwena, Noordwes se provinsiale kommissaris, moedig polisiebeamptes aan om gebruik te maak van sielkundig-maatskaplike ondersteuning van die polisie se dienste vir werknemergesondheid en -welstand.
Kwena betuig sy innige meegevoel aan die naasbestaandes, vriende en kollegas van die drie oorledenes.
Die kommerwekkendste statistieke was in 2017 tot 2018
Syfers wat Bheki Cele, minister van Polisie, in 2022 uitgereik is, werp lig op ’n kommerwekkende tendens binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Van 2017 tot 2022 het die SAPD 284 beamptes aan selfmoord en moord-selfmoordvoorvalle afgestaan. Moord-selfmoord is wanneer iemand een of meer individue doodmaak voordat hulle hul eie lewe neem.
Die kommerwekkendste statistieke was in 2017 tot 2018 toe 64 individuele selfmoordgevalle en 19 moord-selfmoorde aangemeld is.
In die 2018 tot 2019-tydperk het 44 beamptes selfmoord gepleeg en 17 moord-selfmoorde is aangemeld. Hierdie tendens het in die 2019 tot 2020-tydperk voortgeduur toe 33 beamptes hul eie lewe geneem het, en twaalf ander mense se lewe geneem het en toe hulle eie.

Foto: GSIS
Van 2020 tot 2021 het getalle afgeneem met 30 individuele selfmoorde en tien moord-selfmoorde wat aangemeld is. Daar was egter ’n effense toename in die 2021 tot 2022-tydperk, met 39 individuele selfmoorde en 16 moord-selfmoorde wat aangemeld is.
Volgens statistiek ly 10 000 van die geskatte 153 000 SAPD-personeellede aan depressie en 2 700 aan posttraumatiese stresversteuring.
