Central SA
Vermiste man van Bloemfontein gevind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:24 Tue, 21 May 2024

“Toe hy gister hier was, kon ek dadelik sien hy is terug op dwelms. Sy hande was geswel. Ek ken daardie oë.”
Die man van Bloemfontein, wat langer as twee weke vermis was, is gevind.
Werner Smit (30) het Maandag (20/5) by sy halfbroer, Johnny Peterson (42), se huis in Noordhoek in die noorde van Bloemfontein opgedaag nadat hy laas op Donderdag 2 Mei gesien is.
Peterson het bekommerd begin raak en sy broer Donderdag by Navalsig se polisie as vermis aangemeld. “Werner het gereeld ingeloer net om my gerus te stel dat hy nog leef en dat ek nie moet bekommer wees nie,” sê Peterson. “Volgens Werner het hy werk by ’n pakhuis gekry en hy woon ook nou daar.”
Smit het onlangs ’n rehabilitasiesentrum verlaat, sonder om die program te voltooi.
“Toe hy gister (Maandag) hier was, kon ek dadelik sien hy is weer terug op dwelms. Sy hande was geswel. Ek ken daardie oë.”
“Dit is die tweede keer wat ek hom Noupoort toe gestuur het vir sy verslawing. Die eerste keer het dit my R22 000 gekos, en hierdie keer R55 000. Werner wil ongelukkig nie gehelp word nie.”
Smit het in 2013 dwelms begin gebruik nadat hy in die verkeerde vriendekring beland het, onthou Peterson. “Ná ons ma se dood in 2019 het sy verslawing vererger. Hy het homself verwyt vir haar dood. Hy het die lewe vir haar baie moeilik gemaak. Sy het geen ander keuse gehad nie as om van hom te vlug en uit Bloemfontein na Jagersfontein te trek.”
‘Sy hart het gaan staan’
Peterson vertel hulle ma het siek geword en het ernstige longontsteking opgedoen. “Dokters kon haar nie help nie, en ná maande se gesukkel is sy op pad Bloemfontein toe in ’n ambulans oorlede.”
Smit het al voorheen ’n oordosis dwelms geneem, en sy hart het gaan staan.
“Ek is dankbaar hy het werk gekry, maar ek weet nie hoe lank dit sal hou nie aangesien hy weer teruggeval het.”