On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Jong vrou van Welkom se kêrel in hof ná haar verdwyning

───   HEIDRÈ MALGAS 12:16 Tue, 21 May 2024

Jong vrou van Welkom se kêrel in hof ná haar verdwyning | News Article
Thato Tumahole (19). Foto Facebook info@devoslaw.co.za

Die polisie het genoem dat hulle nie tans die aantygings op sosiale media kan bevestig nie.

’n Man het in die Welkomse landdroshof verskyn nadat hy in hegtenis geneem is vir die beweerde ontvoering van sy meisie.

Die saak is uitgestel tot Maandag (27/5) vir die verdagte (22) se borgtogaansoek.

Thato Tumahole (19) se ma, Pulane, het haar as vermis aangemeld nadat sy nie huis toe gekom het nie. Sy is laas op Vrydag 10 Mei gesien, sê Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Haar ma het haar gesoek by ’n paar van haar vriende, maar kon haar nêrens kry nie.

“Ná ’n deeglike soektog is die kêrel op Donderdag om 15:30 in hegtenis geneem vir ontvoering, en hy het Maandag in die Welkomse landdroshof verskyn,” het Thakeng gesê. “Ons neem kennis van sensitiewe inligting wat op sosiale media gedeel is. Ons kan nie bevestig of ontken dat Thato Tumahole oorlede is nie.”

Tumahole is ’n matriekleerder by Welkom High School. Foto verskaf

Luidens ’n inskrywing op sosiale media is Tumahole dood aangetref. Sosialemediagebruikers beweer haar 22-jarige kêrel het haar vermoor en haar liggaam aan die brand gesteek.

“RIV, my liewe vriendin,” skryf Browns Hlehle, ’n vriend van die vermiste leerder. “Dit is met ’n swaar gemoed wat ek hierdie boodskap skryf. Die nuus van jou afsterwe het my geskok. Ek sukkel om dit te glo. Ek kan nie anders nie as om te dink aan die mooi herinneringe wat ons gedeel het en die vreugde wat ons in mekaar se lewe gebring het.”

Die Primêre Skool Harmony op Virginia het hul meegevoel met die naasbestaandes betuig, veral met Pulane.

“Thato sou glo op die betrokke dag saam met vriende gaan kuier het, maar sy het nie opgedaag nie. Haar kêrel het haar na bewering ook die laaste keer om 13:30 gesien,” sê Thakeng. 

Tumahole het tydens haar verdwyning ’n kort bruin top, blou denimbroek en swart Crocs aangehad. Sy het lang donkerbruin hare. Die soektog duur voort.

OFM Nuus het die polisie gevra of hulle vir duidelikheid kan bevestig of sy oorlede is, maar hulle het genoem dat hulle nie tans die aantygings op sosiale media kan bevestig nie. ’n Opdatering sal verskaf word.

As iemand inligting het wat kan help om die vermiste Thato op te spoor, kan speursers. Fanisile Kojane van Welkom se eenheid vir ernstige en geweldsmisdade gebel word by 060 985 9330 of Stop Misdaad by 08600 10111.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.