On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Pulane
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse man gevonnis weens werknemer se moord

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:42 Thu, 23 May 2024

Vrystaatse man gevonnis weens werknemer se moord | News Article
Foto: iStock

Van Vuuren het in ’n fisiese onderonsie met Mogoje betrokke geraak oor ’n stukkende motorbuffer by hul werkswinkel.

’n Werkgewer van Odendaalsrus is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op ’n werknemer.

Barnard Petrus van Vuuren is Woensdag (22/5) skuldig bevind aan die moord op sy werknemer Thembinkosi Mogoje, sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder.

Van Vuuren, ’n werktuigkundige op die myndorp Odendaalsrus, het op 13 Januarie in ’n fisiese onderonsie met Mogoje betrokke geraak oor ’n stukkende motorbuffer by hul werkswinkel.

Ná die aanranding is Mogoje na die polisiekantoor om ’n saak van aanranding aanhangig te maak, maar is glo deur die polisie weggewys.

‘Van Vuuren het geweet dit sou donker wees aangesien dit tydens beurtkrag was’

Van Vuuren, wat lid is van die dorp se buurtwag, het later die aand vir Mogoje en ’n ander werknemer, ook die enigste ooggetuie, gaan oplaai, glo oor inligting van kabeldiefstal wat sou plaasvind en ’n wegkommotor wat opgemerk is.

Van Vuuren het toe na ’n afgeleë deel van die nywerheidsgebied naby die dorp se elektriese substasie gery. Senokoatsane sê Van Vuuren het geweet dit sou donker wees aangesien dit tydens beurtkrag was.

Daar was geen teken van vermeende koperdiewe nie. Die beskuldigde het die gebied met sy selfoonflits verlig, glo om die slagoffer te help om gras van sy broek te verwyder. Dis toe dat Van Vuuren Mogoje geskiet het.

Van Vuuren het toe glo ’n ander baadjie aangetrek en die polisie sowel as ander patrolleerders na die toneel ontbied. Die slagoffer is op die toneel dood verklaar.

‘Die beskuldigde het ten aanskoue van die ooggetuie en ander patrolleerders die patroon gesoek’

Ná deeglike ondersoekwerk deur die polisie en die verklaring van die ooggetuie is Van Vuuren van moord aangekla en in hegtenis geneem.

Tydens die verhoor het die hof gehoor hoe die beskuldigde voor die polisie se aankoms die patroon gesoek het ten aanskoue van die ooggetuie en ander patrolleerders. Die patroon is nooit gevind nie.

Van Vuuren het ontken hy het die oorledene geskiet, maar wel skuldig gepleit op aanranding. Die hof het Van Vuuren se weergawe verwerp dat iemand hom wou skiet en toe die oorledene getref het.

Brian Montsho, streekshofaanklaer, het die staat se saak voorgelê en aangevoer die beskuldigde het geen berou getoon nie en die slagoffer sonder rede vermoor. Hy het aangevoer daar was geen dwingende en wesenlike omstandighede vir die hof om van die maksimumvonnis af te wyk vir die moord op ’n weerlose man nie. Hoewel Bontsho die aanklaer versoek het dat die hof die beskuldigde tot 30 jaar vonnis, is hy 15 jaar tronkstraf opgelê.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.