Central SA
JB Marks hervat dienslewering in Potchefstroom ná vandalisme─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:30 Fri, 24 May 2024
“Die situasie is steeds nie heeltemal ontlont nie en die munisipale voertuie word vergesel deur sekuriteit.”
Die munisipaliteit in Potchefstroom hervat Vrydag (24/5) dienslewering en meer spesifiek vullisverwydering.
Die VF Plus het Donderdag dringende optrede van die JB Marks-munisipaliteit geëis teen vandale wat dienslewering in Potchefstroom lamlê.
Die situasie is steeds nie heeltemal ontlont nie en die munisipale voertuie word vergesel deur sekuriteit, sê Marlene Steyn du Toit, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit.
Die party het in ’n dringende skrywe aan die speaker, Moithoesi Dassie, geëis dat die munisipale bestuurder, Kgomotso Kumbe, ’n strafregtelike klagte indien teen diegene wat munisipale voertuie in Potchefstroom vandaliseer en amptenare intimideer.

Marlene Steyn du Toit, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit. Foto verskaf
Steyn du Toit sê die munisipaliteit sal hulle ook in kennis stel van planne om op te vang met die res van die roetes wat deur die week nie afgelê is nie nadat diensleweringsvoertuie sedert Dinsdag aan die brand gesteek en met verf besmeer is.
“Munisipale amptenare is verhinder om hul pligte uit te voer en die munisipaliteit het as voorkomende maatreël onder meer vullisverwyderingsdienste in die dorp tydelik gestaak,” sê Steyn du Toit.
“Hierdie gebeure volg op soortgelyke voorvalle in die verlede waar groepe in die gemeenskap hulself tot misdadigheid gewend het om dienslewering te ontwrig.
“Dit is noodsaaklik dat daar dringend en ernstig teen hierdie wetteloosheid opgetree word en dat die ANC-(beheerde) munisipale bestuur nie weer soos in die verlede met die skuldiges ‘onderhandel’ om hul politieke agenda te bevorder nie.”

Die VF Plus in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp) het Woensdag ’n Sweedse afvaardiging van munisipale raadslede in Potchefstroom by die party se kantoor ontvang. Foto verskaf
Die VF Plus verwelkom die feit dat strafregtelike stappe gedoen word teen die misdadige elemente wat munisipale voertuie beskadig en dienslewering ontwrig het.
Kgomotso Kumbe, munisipale bestuurder, het aan die VF Plus bevestig dat ’n klagte reeds ingedien is, en dat die polisie reeds met hul ondersoek na die voorvalle begin het, soos vroeër in ’n dringende skrywe deur die VF Plus versoek is.
Die VF Plus sal aanhou om die situasie te monitor en toesien die skuldiges word strafregtelik vervolg.
Volgens Steyn du Toit sal die VF Plus druk volhou op die munisipale bestuur om sy verantwoordelikhede teenoor wetsgehoorsame inwoners na te kom.
Jeanette Tshite, JB Marks-woordvoerder,het beloof om binne 24 uur OFM Nuus se vrae te beantwoord.
OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh
