Central SA
Boer (82) in hof ná hy glo jong man skiet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:06 Mon, 27 May 2024

“Die bejaarde boer sal op twee aanklagte van poging tot moord verskyn.”
’n Vrystaatse boer wat na bewering ’n jong man geskiet het, sal na verwagting Maandag (27/5) in die hof verskyn.
Die boer (82) van Ladybrand is Sondag op twee aanklagte van poging tot moord in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op die verdagte se vuurwapen.
Na bewering het die slagoffer (18) en sy vriend (19) van ’n ander plaas in die distrik Vrydag omstreeks 20:30 op die plaas gejag toe hulle deur die verdagte gekonfronteer is, sê Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder.
“Hy is in die rug en skouer geskiet’
“Die boer het hulle glo gevloek waarna hulle met hul motor weggejaag het. Die boer het hulle egter agternagesit en op hulle begin skiet. Die 18-jarige wat bestuur het, is in die rug en skouer geskiet,” sê Mophiring. Die vriend het verder bestuur en na hul plaas gery waar die man se oom met hom na ’n hospitaal in Bloemfontein gejaag het.
In April vanjaar het Joseph Jan Shabango (48), ’n boer van Bethal in Mpumalanga, ‘n man (35) doodgeskiet wat onwettig op sy plaas gejag het.
‘Drie patroondoppies is op die toneel gekry’
Verskeie skote is afgevuur en die man is op die toneel dood verklaar.Die vuurwapen wat in die skietery gebruik is, is in die boer se besit gevind. Drie patroondoppies is op die toneel gekry.
Shabango het hom ná die skietery aan die polisie oorgegee nadat ’n vriend van die oorledene ongedeerd van die toneel gevlug het. Die verdagte is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.
OFM Nuus dg