On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Dorslandtrek: 150 jaar word gevier

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:22 Tue, 28 May 2024

Dorslandtrek: 150 jaar word gevier | News Article
Foto: Tracks4AfricaPadkos

“Dit is baie belangrik om jou kultuur te help bewaar.”

’n Historiese geleentheid vind binnekort by die Voortrekkermonument in Pretoria plaas wanneer die 150ste herdenking van die begin van die Dorslandtrek herdenk word.

Anderhalf eeu gelede, op 20 Mei 1874, vertrek die eerste van drie gesinne van die Dorslandtrek met vier waens uit die distrik Pretoria met die doel om Transvaal vir goed te verlaat na ’n nuwe land om daar ’n nuwe begin te maak, sê dr. Nicol Stassen, ’n gesiene navorsers oor dié trek.

Die Voortrekkermonument in Pretoria. Foto: Wikipedia

“Op 6 Januarie 1875 het nog ses gesinne by hulle aangesluit en op 4 Januarie 1881, en ná sewe jaar en talle uitdagings, in Humpata, Angola, aangekom en ’n boerenedersetting daar gevestig.”

Die Dorslandtrekvereniging het ’n spesiale herdenkingsgeleentheid op 1 en 2 Junie om die 150ste herdenking van hierdie geskiedkundige gebeurtenis te vier.

Die geleentheid sal by die Voortrekkermonument plaasvind, wat die geleentheid bied vir die publiek om saam met nasate van die Dorslandtrekkers en gaste te herdenk.

‘Dit is baie belangrik om jou kultuur te help bewaar’

Pieter Kok, voorsitter van die Dorslandtrekvereniging RSA, glo dit is baie belangrik om jou kultuur te help bewaar. Die program vir die dag sluit in ’n feesrede deur Stassen, musikale optredes en tradisionele danse. Direkte afstammelinge van die Dorslandtrekkers sal insigte in hul familiegeskiedenis deel, terwyl prof. Erik Holm in die betekenis van die ossewa sal delf.

Een van die hoogtepunte van die geleentheid is die oorhandiging van sertifikate aan genl.maj Gert Opperman vir sy deurslaggewende rol in die stigting van ’n gedenkteken vir die Dorslandtrekkers, en aan Stassen, ter erkenning vir sy werk as navorser. Stassen se noemenswaardige bydraes sluit in as skrywer van drie boeke oor die reis van die Dorslandtrekkers: Van Humpata tot Upingtonia (2022), De Jagers in die Dorsland (2018), en Die Dorslandtrek 1874–1881 (2015), al drie by Protea Boekhuis.

Nicol Stassen het drie boeke geskryf oor die Dorslandtrekkers. Foto: Facebook

Kok vertel hy sien veral uit na die oorhandiging van ’n gekoesterde familie-erfstuk: ’n koperbakkie wat eens aan sy oupagrootjie Gert Andries Jacobus Alberts behoort het. Die koperbakkie sal aan dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument, vir bewaring oorhandig word.

'n Dorslandtrekgedenkteken is in 2016 n die Historiese Gedenktuin van die Voortrekkermonument onthul. Foto: Facebook

Toegang tot die Voortrekkermonumentterrein is gratis en kaartjies vir deelname aan die naweekprogram kos R100 per volwassene, met gratis toegang vir kinders van 18 jaar en jonger. Deelnemers kan kaartjies koop op die dag van die geleentheid, wat toegang bied tot al die aktiwiteite wat vir die geleentheid beplan word.

OFM Nuus dg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.