On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Kiesersveiligheid is Noord-Kaapse polisie se topprioriteit

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:20 Wed, 29 May 2024

Kiesersveiligheid is Noord-Kaapse polisie se topprioriteit | News Article
Die polisie is gereed vir enige moontlike gemeenskapsbetogings. Foto: Heidrè Malgas

“Enigeen wat met plakkate peuter of dit vandaliseer, sal in hegtenis geneem word.”

Polisiebeamptes is ontplooi by al 730 stemlokale in die uitgestrekte provinsie om kiesers se veiligheid te verseker.

Lt.genl. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris en voorsitter van die Provinsiale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, is vol vertroue hul veiligheidsmaatreëls en planne sal verseker dat die verkiesing in die Noord-Kaap sonder voorvalle van misdaad en ontwrigtings verloop. “Ons verseker maksimum ontplooiing om die suksesvolle uitvoering van die operasionele plan te verseker.”


In die Noord-Kaap word verwag dat meer as 570 000 kiesers sal stem.

Hoewel maatreëls getref is, lê die uiteindelike verantwoordelikheid om ’n veilige en bevorderlike omgewing te verseker by elke burger van die provinsie. “Dit vereis goeie vennootskappe om ’n harmonieuse agtergrond van wedersydse respek te skep terwyl ons na die stemlokale gaan,” sê Otola.

Sy voeg ook by dat die polisie se eenheid vir openbare orde gereed is vir moontlike gemeenskapsbetogings en om sulke voorvalle te voorkom en te bekamp.

Otola herinner gemeenskappe aan hul grondwetlike regte en beklemtoon elke inwoner is vry om politieke keuses uit te oefen, insluitend deelname aan veldtogte vir politieke partye.

Meer as 570 000 kiesers word in die Noord-Kaap verwag. Foto: Heidrè Malgas

Gemeenskappe word egter gewaarsku teen vandalisering, skending en verwydering van politieke plakkate en enige optrede wat as ’n oortreding beskou kan word. “Enigeen wat met plakkate peuter of dit vandaliseer, sal in hegtenis geneem word en aangekla word ingevolge die Kieswet 73 van 1998,” waarsku Otola.

Die verspreiding van fopnuus en ongeverifieerde inligting op sosiale media, wat geweld kan aanhits en paniek kan veroorsaak, word ook as ’n misdaad beskou.

Volgens die OVK het meer as 27 miljoen Suid-Afrikaners geregistreer om te stem, van wie vroue 55,25% uitmaak en mans 44,75%.

Stemlokale sal oop wees tot 21:00.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.