Central SA
Leier van vermeende veediefstalsindikaat in Noordwes kry borgtog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:04 Fri, 31 May 2024
“Dié man is aan die gemeenskap bekend en is al talle kere op beeldmateriaal vasgelê.”
Die vermeende baasbrein van ’n veediefstalsindikaat in Noordwes is op vrye voet tot hy weer op 16 Julie in die hof verskyn.
“Cliffton Keobokile (Rasta) Kenosi (38) het Vrydag in die Ganyesa-landdroshof in Noordwes verskyn waar hy op borgtog van R5 000 vrygelaat is,” sê Amanda Funani, polisiewoordvoerder.

Cliffton Keobokile (Rasta) Kenosi. Foto: Facebook
Dit is nie eerste prys dat Kenosi borgtog gekry het nie, sê Naudé Pienaar, adjunkhoofbestuurder van Agri-Noordwes, maar hy is dankbaar dat daar nou wel vordering in die saak gemaak word. “Ek hoop regtig die regte besluite sal tydens die volgende hofverskyning geneem word.”
Kenosi is Vrydag (17/5) aangekeer op aanklagte wat verband hou met die beweerde vergiftiging van Ockert Goosen se beeste in die Bray-omgewing. Boere in die omgewing word al langer as ’n dekade deur ’n veediefstalsindikaat geteister.

Cliffton Keobokile (Rasta) Kenosi. Foto: Facebook
Hy was sedertdien in aanhouding nadat sy borgtogaansoek op Maandag (20/5) uitgestel is.
OFM Nuus het vroeër berig nadat Goosen se kalwers gesteel is, wou hy en sy pa ’n klag by die Bray-polisiekantoor indien, maar die beamptes aan diens het glo geweier. Eers toe die klaers gedreig het om ’n video te neem, is gehoor gegee.
Die vermeende sindikaatleier het daarna Goosen se pa genader en gedreig om sy seun se beeste te steel en te vergiftig. Dié man is aan die gemeenskap bekend en is al talle kere op beeldmateriaal vasgelê.
Nie lank daarna nie, in November verlede jaar, is 44 beeste vergiftig, waaronder elf kalwers en 33 koeie met 25 kalfies wat wees gelaat is.

Cliffton Keobokile (Rasta) Kenosi. Foto: Facebook
Foto’s van dié beeskarkasse is op sosiale media versprei nadat gif in die beeste se waterkrip gegooi is. Goosen het net ná die voorval gesê hy was tot in sy wese geskok toe hy op sy beeste afkom. “Ek is baie lief vir my diere en het ’n passie vir my boerdery, wat die grootste motivering van my lewe is.”
Kenosi was sedert verlede jaar meermale in die hof op aanklagte wat verband hou met veediefstal, opsetlike saakbeskadiging en poging tot moord. Hy is al voorheen op borgtog vir dié aanklagte vrygelaat.
Kenosi, wat weer op 16 Julie in die hof moet verskyn en verskeie aanklagte teen hom het, se verhore sal dan gelyklopend begin. Hy staan tereg op vyf aanklagte wat verband hou met die diefstal en vergiftiging van Goosen se vee.
Dié aanklagte sluit in veediefstal, opsetlike saakbeskadiging, intimidasie en oortredings van die Wet op Dierebeskerming.
