Central SA
Polisie maak Douglas-skool bewus van kinderbeskerming─── CASEY-LEE ANTHONY 11:01 Tue, 04 Jun 2024
“Beskerming van Suid-Afrikaanse kinders, 30 jaar later.”
Met die oog op Kinderbeskermingsmaand het Kimberley-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe saam met Douglas se eenheid vir maatskaplike misdaadvoorkoming die Primêre Skole Bongani en Bucklands op Douglas besoek om bewustheid op te skerp.
“Die veldtog maak deel uit van die polisie se waarneming van Kinderbeskermingsmaand, onder die tema ‘Beskerming van Suid-Afrikaanse Kinders, 30 jaar later’,” sê lt.kol. Sergio Kock.
Polisiebeamptes het meer as 250 leerders by albei skole toegespreek oor algemene afknouery, kuberafknouery, seksuele misdrywe, tienerswangerskap, gevaarlike wapens, dwelmmisbruik en dissipline in skole.

SAPD by een van die skole vir kinderbeskermingsmaand. Foto: SAPD
“Ons het die skoliere herinner aan hul reg om beskerm te word, met waardigheid behandel te word, om nie slagoffers van mensehandel te word nie, om skool toe te kan gaan, om versorg te word en om nie wreed behandel te word nie.”
Die leerders is aangemoedig om hul eie liggaam en ander mense s’n te respekteer en te versorg, en om altyd herinner te word aan die gesegde: “As jy iets sien, sê iets!”

“Hierdie skoolbesoeke sal deurlopend deur die jaar wees, nie net vir Kinderbeskermingsmaand nie, en ons gaan ook na skole wanneer hulle ons versoek om dit te doen.”
Die polisie het ook verskeie skole in Kimberley en op Delportshoop besoek in April om veiligheid binne skole te bevorder, terwyl gevaarlike wapens en tabakprodukte tydens hul soektogte gekonfiskeer word.
Die polisie het bewusmakingsintervensies by die skole gedoen om dwelm- en drankmisbruik, geslagsgeweld en afknouery die hoof te bied.
As jy ’n misdaad wil aanmeld, bel 08600 10111. Jy kan ook die Kinderlyn skakel vir hulp by 0800 0555 55. Omgee-gemeenskappe beskerm hul kinders.
