On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley: Vermeende moordenaar van blitspatrollielede in Augustus verhoor

───   HEIDRÈ MALGAS 14:45 Wed, 05 Jun 2024

Kimberley: Vermeende moordenaar van blitspatrollielede in Augustus verhoor  | News Article
Daniel Wilfred Alberts tydens ’n vorige hofverskyning. Foto verskaf

“Alberts was agt maande lank op die waglys ná sy inhegtenisneming voor hy opgeneem kon word.”

Die man wat daarvan aangekla word dat hy twee blitspatrollielede verlede jaar in Kimberley vermoor het, se saak is uitgestel tot 12 Augustus vir die sentralisering van die sake teen die beskuldigde.

Daniel Alberts (38) het op 22 Augustus verlede jaar ’n motor in Bloemfontein gesteel en na bewering die twee beamptes in Kimberley vermoor. “Dit beteken hy het twee sake teen hom,” sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.

Al die sake teen Alberts sal nou deel uitmaak van een aanklag teen die beskuldigde. In plaas daarvan dat hy in twee verskillende howe verhoor word, sal die sake nou gesentraliseer word.

‘Hy was agt maande lank op die waglys’

Alberts se sielkundige evaluering is in April afgehandel. “Hy was agt maande lank op die waglys ná sy inhegtenisneming voor hy opgeneem kon word,” sê Senokoatsane.

Die Kimberley-distrikshof het vroeër verneem hy is ’n psigiatriese pasiënt wat voorheen al in verskeie psigiatriese fasiliteite opgeneem is. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede, motordiefstal, asook vir die diefstal van ’n skootrekenaar.

Konst. Okaetse Mandindi (35) en sers. Kedimetse Masilo (45) van die blitspatrollie in Kimberley was besig om inligting oor ’n gesteelde voertuig op te volg. Die voertuig was van Bloemfontein onderweg en is later in Kimberley gewaar.

‘Die twee polisielede het hom agternagesit’

Alberts het tot by ’n Transnet-perseel gejaag, waar hy in ’n ongeluk betrokke was en toe weggehardloop het. Die twee polisielede het hom agternagesit, en hy het na bewering op hulle losgebrand. Alberts is dieselfde dag in hegtenis geneem.

OFM Nuus het vroeër berig Ofentse Mokae, Noord-Kaapse DA-woordvoerder, het gesê die DA veroordeel die dubbele polisiemoord in Kimberley.

“Ons eer konst. Okaetse Mandindi en sers. Kedimetse Masilo. Hulle het gesterf toe hulle probeer het om ’n veiliger wêreld te skep met minder misdadigers op ons strate,” het Mokae gesê. “Ons is veral bekommerd oor berigte dat die oortreder ’n herhaalde misdadiger is.”

Sers. Masilo het in 2007 by die polisie aangesluit en het 16 jaar diens gehad ten tyde van haar dood, terwyl konst. Mandindi in 2012 by die polisie aangesluit het.

Die polisieondersoek duur voort.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mc

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.