Central SA
Thys die Bosveldklong steeds kritiek ná maand in hospitaal─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:28 Thu, 06 Jun 2024
“My foon hou nie op lui sedert Thys in die hospitaal opgeneem is nie; dis verstommend hoe baie mense vir hom omgee.”
Dis nou langer as ’n maand vandat die grapjas-sanger in die hospitaal opgeneem is, en sy toestand is onveranderd.
Thys Streicher (49), oftewel Thys die Bosveldklong, is op 4 April in die waakeenheid van ’n hospitaal in Pretoria opgeneem weens ’n hoë koors en blaasontsteking. Hy het ook intussen breinvliesontsteking opgedoen en toe ’n beroerte gehad.

Thys en LJ. Foto verskaf
Suid-Afrikaners ken Thys as die grapperige, lawwe sanger met sy energieke vertonings, maar agter die kollig voer hy ’n stryd teen ’n meedoënlose vyand: veelvuldige sklerose (MS).
Die siekte is vroeg in 2019 by hom gediagnoseer, nadat hy vier jaar lank simptome ervaar het. Veelvuldige sklerose is ’n chroniese outo-immuunsiekte wat die sentrale senuweestelsel aantas en lei tot ’n magdom uitdagings, soos moegheid, spierswakheid en probleme om te beweeg.
Hy was ’n geruime tyd bedlêend weens die siekte, maar nadat dit gediagnoseer is, het hy behandeling ondergaan wat hom beweegliker gemaak het.

Thys die Bosveldklong. Foto: Facebook
“Daar is baie min verandering in Thys se toestand sedert hy in die hospitaal opgeneem is. Sy toestand het nie vererger nie, maar dit het ook nie verbeter nie,” sê LJ, Thys se medekunstenaar en vriend wat ook as woordvoerder vir die familie optree.
“Thys is steeds onder verdowing. Hy het ook ’n gat in sy keel waardeur hy suurstof kry en een van sy longe het onlangs platgeval. Die omvang van die skade van die beroerte kan ook nog nie bepaal word nie omdat die hospitaal sukkel om sy lewenstekens op standaard te kry.”

Thys die Bosveldklong. Foto: Facebook
Ten spyte daarvan dat hy nie kan reageer nie, kan Thys hoor wanneer iemand met hom praat. “Toe ek Thys onlangs besoek en vir hom sê almal mis hom op die verhoog, het die trane oor sy wang geloop.
“Ons wil nie ’n prentjie vir die publiek skets dat dit goed gaan nie. Dit gaan nie goed nie; hy is steeds kritiek. Maar ek het nog nooit iemand so hard gesien baklei soos Thys nie.”
Volgens LJ was die gholfdag wat op 28 Mei op die Akasia-gholfbaan ten bate van Thys se mediese uitgawes gehou is, ’n groot sukses. “My foon hou nie op lui sedert Thys in die hospitaal opgeneem is nie; dis verstommend hoe baie mense vir hom omgee.”
