On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Waterprobleem in Vaaldriehoek ‘nie munisipaliteit se skuld’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:25 Fri, 07 Jun 2024

Waterprobleem in Vaaldriehoek ‘nie munisipaliteit se skuld’ | News Article
Werkers besig om ’n pyp van Randwater te herstel. Foto verskaf

“Dit is ongelukkig een van hierdie dinge wat buite enigiemand se beheer is en dit is ook een van die gevolge van as pype nie in stand gehou word nie.”

Nadat daar Dinsdag (4/6) ’n waterpyp by Randwater gebars het, is inwoners van die Vaaldriehoek ongelukkig omdat hulle nie in kennis gestel is dat hulle nie water gaan hê nie.

Gerda Senekal, VF Plus-raadslid, sê inwoners kan egter nie die Emfuleni Munisipaliteit blameer nie, omdat niemand kon voorspel dat die pyp sal bars nie. “Dit is nie die Emfuleni Munisipaliteit se skuld nie. Dit is Randwater se verantwoordelikheid, want dit was ’n Randwater-pyp, en hulle het alleen op dit gewerk.”

Sy sê die munisipaliteit het veertien en Randwater tien watertenkwaens op verskeie plekke beskikbaar gestel. Hierdie voorval beïnvloed die watertoevoer na inwoners van die drie plaaslike munisipaliteite – Emfuleni, Metsimaholo en Ngwathe.

Gerda Senekal, VF Plus-raadslid in die Emfuleni Munisipaliteit. Foto verskaf

Senekal verduidelik as gevolg hiervan het hulle geen keuse gehad om die toevoer toe te maak nie. “Al die reservoirs het teen Dinsdag laatmiddag in Vanderbijlpark en Vereeniging leeg geloop.”

Vrydag (7/6) net ná 06:00 het die span reeds aan die pyp begin werk. “Die watertoevoer moet egter geleidelik oopgemaak word om die drukking te toets, sodat indien daar ander lekplekke is, dit opgetel kan word,” verduidelik Senekal.

Watertenkwaens is vir die inwoners beskikbaar gestel. Foto verskaf

Sy verseker inwoners in laagliggende gebiede dat hulle voor die einde van die dag (Vrydag) sal water hê. “Teen Saterdag (8/7) behoort die reservoirs op die vlak te wees dat daar drukking opgebou kan word, sodat die hoogliggende gebiede ook water sal hê.”

Senekal sê inwoners kan nie sê hulle is nie op die hoogte gehou nie, want inligting oor die watersituasie is op verskeie groepe gedeel. Die VF Plus het ook saam met Gift of the Givers gewerk en oorkant hul kantoor ’n baie groot watertenk vir twee dae vir inwoners se gebruik geplaas. 

Inwoners van die Vaaldriehoek is sonder water nadat ’n pyp gebars het. Foto verskaf

“Dit is ongelukkig een van hierdie dinge wat buite enigiemand se beheer is en dit is ook een van die gevolge van as pype nie instand gehou word nie. “Hierdie pyp is ouer as 30 jaar, so dit is onvoorspelbaar wanneer dit sal bars. Dit is ook winter, en in die koue maande bars pype makliker as in die somer.”

OFM Nuus dg/mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.