Central SA
Mike van Rooyen se dood ‘enorme verlies’ vir joernalistiek─── KAREN VAN DER BERG 14:06 Fri, 07 Jun 2024

“Hy was ’n taai leermeester wat jou verslaaf gemaak het aan stories en die lewenstyl van ’n koerantman. Hy het stories gejag van oggend tot aand.”
’n Reuseboom het in die joernalistieke wêreld geval met die dood van ’n eertydse hoofverslaggewer en nuusredakteur van Volksblad.
Mike van Rooyen (73) is Vrydagoggend (7/6) in die Mediclinic in Bloemfontein aan kanker oorlede. Hy was veral bekend vir sy presiese en insiggewende hofverslaggewing in ’n 40-jarige loopbaan tot sy aftrede in 2015.
Van Rooyen gaan gemis word, sê Charles Smith, nuushoof van Netwerk24 in die Vrystaat en die Noord-Kaap. “Hy was ’n vriend en mentor vir talle joernaliste wat by Volksblad begin het.” Ná sy aftrede het die deurwinterde verslaggewer dadelik weer as vryskut hofverslaggewing vir Netwerk24 en Volksblad begin doen.
Mike van Rooyen saam met sy kollegas Charl van Rooyen en wyle Jan Scholtz by ’n kuiergeleentheid in die tagtigerjare. Foto: Facebook
“Hy was ’n taai leermeester wat jou verslaaf gemaak het aan stories en die lewenstyl van ’n koerantman. Hy het stories gejag van oggend tot aand.”
Smith sê Van Rooyen was “ongetwyfeld die grootste joernalis” wat die Vrystaat al opgelewer het. “Hy het duisende scoops in sy lewe gehad. En baie vir ons ander help kry.”
Op sosiale media bring mense hulde aan hom en vertel van sy toewyding aan akkuraatheid en sy vermoë om die kompleksiteite van die hofsaal aan ’n breë gehoor oor te dra. Dit het hom ’n geliefde en invloedryke stem in die joernalistiek gemaak.
Twee jaar gelede by Gert Coetzee se afskeid as redakteur van Volksblad. Van links: Johann de Jager, Dirk Kok, Charles Smith, Marietjie Gericke, Coetzee, Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Netwerk24, en Mike van Rooyen. Foto verskaf
Van Rooyen was ’n boerboel van ’n koerantman, soos ’n kollega hom een keer genoem het, onthou Hennie van Deventer, oudredakteur van Volksblad, op Facebook. “Hy was inderdaad een (wanneer) hy agter ’n storie aan was. Hierdie ou met die deurmekarerige baardjie en die ewige sigaret tussen sy vingers het hom nie laat afskud as hy eers sy tande ingeslaan het nie.”
Van Deventer sê Van Rooyen se vasbyt om ’n storie te gaan uithaal, het hom ’n produktiewe “scoopmasjien” gemaak. “Honderde scoops – dalk duisende scoops – het onder die naam Mike van Rooyen in die koerante verskyn, dikwels op die voorblad.”
‘Sy menseverhoudinge was dalk die eintlike sleutel’
Van Deventer sê Van Rooyen se menseverhoudinge was dalk die eintlike sleutel wat vir hom deure oopgesluit het, veral ook in later jare by die howe waar hy ná sy aftrede ’n instelling geword het.
Adriaan Janse van Rensburg, strafregprokureur van Bloemfontein, sê Van Rooyen sal onthou word as die joernalis by die landdros- en hooggeregshof wat die vermoë gehad het om enigiets oor enigiemand uit te vind en daaroor te skryf. “Ons gaan hom baie mis.”
Van Rooyen word oorleef deur sy dogter, Michelle Blaikie, haar man, Sean, en kleinseun, Leo. Hulle woon in Kelso, Skotland. Hy het ook ’n suster, Marida Botha, wat in Welkom bly.
OFM Nuus/Karen van der Berg dg/mvh