On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ficksburg-hof vonnis twee oor vals voertuigsertifikate

───   09:13 Sun, 09 Jun 2024

Ficksburg-hof vonnis twee oor vals voertuigsertifikate | News Article
Taxibestuurder Tladi Jacob Letaba (links) en voertuigondersoeker Thato Phumulane Mbonane. Foto: Valke

"’n Bedrag van slegs R1 100 was genoeg om vir ’n sertifikaat te betaal en die betrokkenes se hande vuil te smeer.”

’n Taxibestuurder en ’n voertuigondersoeker is die afgelope week in die Ficksburg-landdroshof gevonnis op aanklagte van korrupsie, bedrog en sameswering om ’n misdaad te pleeg.

Tladi Jacob Letaba (48), ’n taxibestuurder en Thato Phumulane Mbonane (37), ’n voertuigondersoeker van ’n toetssentrum in Gqeberha in die Oos-Kaap, is skuldig bevind aan die vervalsing van verskeie padwaardigheidsertifikate.

Die mans, asook sewe ander, is in Oktober 2021 in hegtenis geneem tydens ’n operasie wat deur die Valke in Ficksburg uitgevoer is, berig News24.

“Speurders het gereageer op inligting oor 'n groep mense wat vervalste padwaardigheidsertifikate vir voertuie uitreik,” sê Zweli Mohobeleli, Vrystaatse Valke-woordvoerder.

‘Betrokkenes se hande vuil gesmeer’

“Voertuigeienaars van selfs die Oos-Kaap het sertifikate gekry vir voertuie wat nooit by die toetsstasie vir ’n ondersoek deur inspekteurs aangebied is nie. ’n Bedrag van slegs R1 100 was genoeg om vir ’n sertifikaat te betaal en die betrokkenes se hande vuil te smeer.”
Die twee is in hegtenis geneem en op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Die hof het Letaba tot ses jaar gevangenisstraf vir korrupsie gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook met R20 000 op die aanklag van bedrog beboet, of ses jaar tronkstraf, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is.

‘Twaalf jaar gevangenisstraf vir korrupsie’

Hy is ook tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op die aanklag van sameswering om ’n misdaad te pleeg, wat vir vier jaar opgeskort is.

Mbonane is op die aanklag van korrupsie tot twaalf jaar gevangenisstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is. Op die aanklag van bedrog is hy ’n boete van R40 000 of agt jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan vier jaar in sy geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Die hof het Mbonane verder tot vyf jaar tronkstraf gevonnis wat geheel en al vir vier jaar opgeskort is op die aanklag van sameswering om ’n misdaad te pleeg.

'Die Valke is altyd op die uitkyk'

Brig. Xolani Matroos, waarnemende Vrystaatse Valke-hoof, sê soortgelyke operasies is in ander dele van die Vrystaat uitgevoer wat daartoe gelei het dat 'n aantal verdagtes voor die howe gebring is.

“Die Valke is altyd op die uitkyk. Hul skerp kloue is gereed om op enige verkeersbeampte, voertuigondersoeker, eienaar en bestuurder wat by korrupsie betrokke is, toe te sak,” sê hy.

Sewe ander verdagtes wat tydens dieselfde operasie in hegtenis geneem is, word weer op 12 Augustus in die Ficksburg-landdroshof verwag.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.