Central SA
Kommer oor veiligheid ná gru-vonds in Thaba Nchu─── KEKELETSO MOSEBETSI 12:30 Mon, 10 Jun 2024
“By nadere ondersoek is die verskriklike ontdekking gemaak van twee liggame wat agter in die vragmotor brand.”
Vrystaatse polisie soek nog verdagtes ná die grusame ontdekking van twee verbrande liggame die afgelope naweek in ’n voertuig naby Ragogodam in Thaba Nchu.
Die voorval het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur en kommer laat ontstaan oor toenemende geweld. Die voorval het Sondag (9/6) aan die lig gekom toe ’n voertuigopsporingsmaatskappy ’n waarskuwing ontvang het oor ’n gepeuter met die stelsel van ’n Kia-eentonvragmotor. ’n Maatskappyverteenwoordiger het vinnig gereageer op die koördinate wat verskaf is en omstreeks 09:55 by die toneel opgedaag en die voertuig in vlamme aangetref.
By nadere ondersoek het die persoon die grusame ontdekking gemaak van twee liggame wat agter in die vragmotor brand. Na verneem word, het hy onmiddellik hulp ontbied, en spoedig het brandweer- en reddingspanne saam met die polisie by die toneel aangekom.
Nadat die brand geblus is, het polisiebeamptes ontdek dat die twee verkoolde liggame met kabelbinders en draad vasgebind is.
Lede van die plaaslike misdaadrekordsentrum is uitgestuur om die misdaadtoneel te verwerk en ’n uitgewerkte 9 mm-patroon is gevind en as bewysstuk versamel, sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Mediese beamptes was ook op die toneel en het albei slagoffers dood verklaar. ’n Moordsaak is by die Thaba Nchu-polisiekantoor geopen en ondersoeke duur voort.
Covane vra enigeen met inligting wat kan help met die ondersoek, moet die polisie kontak.
Enkele maande gelede is vier liggame, waarvan een onthoof is, in ’n nabygeleë stroom in Botshabelo gevind. Hierdie reeks geweldsmisdade het groot kommer in die gemeenskap veroorsaak. In reaksie op hierdie kommerwekkende neigings het Vrystaatse kommissaris Baile Motswenyane bykomende hulpbronne aan die gebied toegewy.
“Dit is ons brandpuntgebied. Ons het dus in groot getalle hierheen gekom sodat ons hierdie gebied kan begin deursoek aangesien ons gesien het dit word ’n groot probleem vir ons as die Vrystaat,” het sy gesê.

