On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

5 blouapies binne 2 weke by Hartbeespoortdam vergiftig

───   ZENANDE MPAME 16:21 Wed, 12 Jun 2024

5 blouapies binne 2 weke by Hartbeespoortdam vergiftig  | News Article
Vyf blouapies is by die Hartbeespoortdam vergiftig. Foto: krugerpark.co.za

“Ons is hartseer dat hierdie diere op so ’n grusame en wrede manier gevrek het.”

Toksikologieverslae het bevestig drie blouapies wat in Kosmos by Hartbeespoortdam gevind is, toon tekens van vergiftiging, 

Die blouapies is deur inwoners in hul tuin gevind nadat hulle opgegooi en om die mond geskuim het. Een blouapie is op die toneel dood, ’n wyfie op pad na die hospitaal en ’n mannetjie het oorleef.

Hulle het stuiptrekkings en bloederige diarree gehad en is na die Hartbeespoort-dierewelsynsvereniging (HAWS) geneem. 

Inwoners word gevra om nie blouapies te voer nie omdat dit lei tot slegte gewoontes. Foto: Wikipedia

“Dit is ’n wrede manier vir enige dier om te vrek. Enige persoon wat ’n dier vergiftig, verrig ’n onwettige daad en kan misdadig aangekla word,” sê Ilka van der Merwe, HAWS-kliniekbestuurder.

“Ons het ’n toksikologieverslag van Onderstepoort ontvang, en by albei ape is plaagdoder gemeng met maaginhoud opgespoor. Ongelukkig het ons as mense in hul habitat ingetrek en ons het ’n verantwoordelikheid om hul veiligheid sowel as ons eie te verseker. 

“Ons hoop werklik dit is die laaste voorval van vergiftigde ape in ons omgewing,” sê sy.

Een van die vergiftigde blouapies. Foto verskaf

Inwoners en besoekers word gemaan om geen wilde diere te voer nie, veral ape, aangesien dit lei tot hul afhanklikheid van mense. In meeste gevalle lei dit tot aggressie wanneer mense dan weier om hulle te voer. In daardie stadium begin hulle probleme vir almal veroorsaak. Hulle behoort geen ergernis vir mense te veroorsaak as ’n mens hulle bloot ignoreer nie.

Komorant berig Jac-Louis Horn van Critter Chronicles sê: “Blouapies, saam met ander inheemse spesies, speel ’n belangrike rol in ons ekostelsel. Dit is van kardinale belang om te onthou, hoewel die diere soms as lasposte beskou kan word, is die gebruik van onmenslike behandeling nooit die oplossing nie.”

Blouapies woon in troppe van sowat 70 diere. Foto: Wikipedia

“Die bestuur van die landgoed beskou die vermoedelike voorvalle in ’n baie ernstige lig. Ons het verskeie berigte ontvang (van vergiftigde blouapies), maar kan niemand sonder bewyse beskuldig nie,” sê Duncan Holmes, bestuurder van Caribbean Beach Club Estate.

“Ons vra inwoners al jare om nie ape te voer nie, maar dit gebeur steeds. As hulle nie deur inwoners gevoer word nie, sal hulle elders kos soek.”

‘Die polisie moet dadelik in kennis gestel word’

As enige lid van die publiek ’n dooie apie kry, moet hulle nie met hul kaal hande daaraan raak nie, maar ’n plastieksak gebruik. Hulle moet ook enige vermeende kos, skuim, braaksel en ontlasting verwyder en HAWS onmiddellik by 076 455 0322 bel.

Indien iemand vermoed of bewyse het dat ’n persoon by die vergiftiging van enige dier betrokke is, moet die polisie dadelik in kennis gestel word, sê Van der Merwe.

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.