On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Historiese kerk in Kimberley in brand beskadig

───   CASEY-LEE ANTHONY 16:41 Fri, 14 Jun 2024

Historiese kerk in Kimberley in brand beskadig | News Article
Trinity House onder ’n laag sneeu in 1915. Foto verskaf

“Die hele dak is beskadig, die vensters is uit, die trap binne is afgebrand. Dit is binne vernietig.”

Trinity House in Kimberley is erg deur ’n brand beskadig. Volgens aanvanklike berigte blyk dit dat hawelose mense moontlik die houtvloerplanke van dié historiese gebou aan die brand gesteek het.

Die eerste Metodistekerk wat in Kimberley gebou is, was ’n swak hout- en seilgebou in die ou woonbuurt De Beers in 1871. Drie jaar later het ’n hewige storm dit heeltemal vernietig. Dit is die volgende jaar met ’n duursamer hout-, yster- en baksteengebou by die aansluiting van Du Toitspanweg en Kapelstraat vervang, wat beteken dat die kerk dus al meer as 100 jaar oud was.

“Die hele dak is beskadig, die vensters is uit, die trap binne is afgebrand. Die gebou is binne vernietig,” sê Marie Parsons, ’n winkeleienaar oorkant die afgebrande Trinity House.

Die brandskade aan Trinity House, Kimberley. Foto: Yolanda Rosier

Parsons sê die brand is klaarblyklik veroorsaak deur hawelose mense wat koud gekry het, onwettig by die verlate gebou ingebreek en die brand gestig het met hul pogings om warm te bly. Die brand moes die vorige aand ontstaan het, want toe Marie die oggend by die werk ingaan het sy rook gesien en dadelik die brandweer ontbied. 

“Ek weet nie of die brandweer vroeër ook daar was nie, maar niemand is beseer nie. Daar het glo mense uit die gebou gevlug toe die brand ontstaan het,” sê sy.

Die dak en vensters is in die brand beskadig. Foto: Yolanda Rosier

Die kerk is destyds gebou met skenkings en geld wat deur die gemeentelede ingesamel is. Dit het ’n geruime tyd geneem om ’n aansienlike bedrag in te samel om die gebou langs die hoofkerksaal op te rig.

“Hierdie kerk is ’n baken in Kimberley, ’n gebou wat aan die hele Kimberley bekend is. Ons is passievol oor ons ou geboue en oor ons erfenis.”

Die kerk se gemeentelede en inwoners van Kimberley is moedeloos, omdat hulle besef dat dit ’n groot bedrag geld sal kos om die skade wat deur die brand aangerig is te herstel.

OFM Nuus/Casey-Lee Anthony mvh dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.