Central SA
Matrikulant van Bloemfontein lees meer as 100 boeke─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:50 Tue, 18 Jun 2024
“Sy het gemiddeld elke drie tot vier dae ’n nuwe een begin.”
’n Matrikulant van Bloemfontein het binne net twaalf maande meer as 100 boeke gelees.
Amy Fröhlich (17) van die Meisieskool Oranje voel egter die 18 boeke wat sy vanjaar al gelees het, is nie genoeg, maar sê dis omdat haar matriekjaar heelwat besiger is as vorige jare.
Die VRL-lid, toptien-kandidaat en eerstespan-netbalspeler het nie minder nie as 115 boeke in 2023 gelees. Sy het gemiddeld elke drie tot vier dae ’n nuwe een begin– dit alles terwyl sy sowat tien uur per week netbal geoefen het en akademies tweede in haar graad gestaan het.

Amy Fröhlich is baie lief vir lees. Foto verskaf
“My liefde vir lees het begin toe ek klein was. My pa het van kleins af vir my en my susters boeke gekoop. As die jongste kind van drie het ek die voordeel gehad om al my susters se boeke ook te lees."
Haar passie vir lees het in gr. 10 versterk toe sy etlike maande lank siek was en nie kon netbal speel nie. Sy glo dat lees haar woordeskat aansienlik uitgebrei het en haar skryfvaardighede bevoordeel het. “Ek sal nie sê ek geniet lees nie, maar dit help my om my drome te verwesenlik.”
‘Ek lees gewoonlik saans in die bed romantiese fiksie’
Haar gunstelingskrywer is die Amerikaner Kiera Cass, veral bekend vir haar reeks The Selection, een van Amy se geliefkoosde boeke. “Ek lees gewoonlik saans in die bed romantiese fiksie of gedurende die paar minute wat ek tussen huiswerk en netbaloefening kan steel.”
Amy sê sy koop die meeste van haar boeke by ’n aanlyn biblioteek en vind e-boeke geriefliker om rond te dra, aangesien sy bang is om hardebandboeke te beskadig.

Amy Fröhlich se boeke gaan selfs saam na die netbalbaan. Foto verskaf
Hoewel sy baie tyd met boeke deurbring, streef sy nie daarna om self boeke te skryf nie en geniet sy lees net vir ontspanning. Amy beoog om ná skool aktuariële of wiskundige wetenskap te studeer, so dit is geen verrassing dat wiskunde haar gunstelingvak is nie.
OFM Nuus dg
