On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Kimberley: Man gevonnis ná hy meisie in psigiatriese hospitaal verkrag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:36 Wed, 19 Jun 2024

Kimberley: Man gevonnis ná hy meisie in psigiatriese hospitaal verkrag | News Article
Foto: iStock

“Ná die aanval het die meisie dadelik die hospitaalbestuur in kennis gestel wat toe die polisie ontbied het.”

Die polisie in die Noord-Kaap sê hulle sal aanhou werk om kinders en ander kwesbare inwoners veilig te hou nadat ’n pasiënt in ’n psigiatriese hospitaal in Kimberley skuldig bevind is aan die verkragting van ’n minderjarige pasiënt.

Die oortreder (22) is vroeër vandeesmaand in die streekhof tot vier jaar tronkstraf gevonnis. “Die slagoffer (12) het glo ná ete ’n draai geloop toe die manlike pasiënt haar gegryp en in die badkamer ingedwing het. Hy het haar toe verkrag,” sê Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.

‘Sy borgtogaansoek is geweier’

“Ná die aanval het die meisie dadelik die hospitaalbestuur in kennis gestel wat toe die polisie ontbied het. Die oortreder is op die toneel in hegtenis geneem.” Sy borgtogaansoek is geweier en hy het in aanhouding gebly tot sy verhoor en daaropvolgende vonnisoplegging.

Intussen is ’n man van Daniëlskuil lewenslank tronk gestuur nadat hy sy twee minderjariges stiefkinders verkrag het. “Die beskuldigde is Maandag 10 Junie op Postmasburg gevonnis nadat hy in 2018 sy twee stiefkinders verkrag het,” sê Omphile Masegela, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. Hy is skuldig bevind op twee aanklagte van verkragting.

“Geregtigheid het geseëvier vir die twee jong slagoffers in die streekhof in Postmasburg,” sê hy. “Die slagoffers, wat ten tye van die voorval ses en sewe jaar oud was, het op besoek aan hul tante vertel dat hy hul opdrag gegee het om by hom in die bed te slaap. Hy het hulle toe verkrag.”

‘Die beskuldigde is op Groblershoop in hegtenis geneem’

Die kinders se ma het vermoed dat hulle verkrag is, maar was te bang vir die beskuldigde om op te tree. ’n Saak is op 19 Oktober 2018 by die polisie op Daniëlskuil aanhangig gemaak, en die beskuldigde is enkele dae later op Groblershoop in hegtenis geneem.

“Die beskuldigde is op borgtog vrygelaat, maar het versuim om weer in die hof te verskyn. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik en hy is op 30 September 2020 in hegtenis geneem,” sê Masegela.

‘Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit’

Die beskuldigde was sedertdien in aanhouding. Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en sy naam is in die nasionale register vir seksoortreders aangeteken.

Koliswa Otola, Noord-Kaapse polisiekommissaris, het sers. Gaolatlhwe Mongake van die Postmasburg se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe geloof vir die noukeurige ondersoek.

Otola sê die polisie in die Noord-Kaap sal die veiligheid van kinders en kwesbare groepe prioritiseer om te verseker dat oortreders in die hof verskyn en dat slagoffers van geslagsgeweld die geregtigheid kry wat hulle verdien.

OFM Nuus dg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.