On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Matlosana se bestuurder in hof ná beweerde korrupsie

───   06:30 Thu, 20 Jun 2024

Matlosana se bestuurder in hof ná beweerde korrupsie | News Article
Lesego Seametso. Foto verskaf

“Die geld is glo gebruik om 'n huis te koop deur 'n familietrustrekening waarvan die munisipale bestuurder die mede-ondertekenaar is.”

Die Matlosana-munisipaliteit in Klerksdorp se munisipale bestuurder, Lesego Seametso (37), en haar suster, Kelebogile Seametso (42), het vroeër vandeesmaand in die landdroshof verskyn. Kelebogile werk ook by die munisipaliteit. 

Hulle word aangekla van diefstal, bedrog, geldwassery en korrupsie.

Kelebogile Seametso. Foto verskaf

Lloyd Ramovha, Valke-woordvoerder, sê ’n saak is in Mei in Klerksdorp aanhangig gemaak nadat tenderonreëlmatighede van R3 miljoen in die munisipaliteit geïdentifiseer is. Dit het van Maart 2022 tot Augustus 2023 gebeur.

OFM Nuus verneem die munisipale bestuurder is sedert haar hofverskyning met spesiale verlof. Hulle is op borgtog van onderskeidelik R20 000 en R10 000 vrygelaat en die saak is tot 2 Augustus uitgestel. 

“Dit is kommerwekkend dat kernpersoneel in die munisipaliteit by korrupsie geïmpliseer word,” sê Johannes le Grange, DA-koukusleier in Matlosana. Die munisipaliteit se finansiële hoof, Mercy Phetla, het ook vroeër vanjaar in die hof verskyn. 

Ramovha sê die ondersoeke impliseer dat die munisipale bestuurder baat gevind het by gesteelde munisipale geld. 

“Die geld is glo gebruik om ’n huis te koop deur ’n familietrustrekening waarvan die munisipale bestuurder die mede-ondertekenaar is.”  

Papiki Babuile, EFF-sekretaris in Noordwes, sê hulle het die munisipaliteit bewus gemaak van Seametso se vorige geskiedenis, maar hul pogings was vrugteloos. Hulle gaan voort om ’n spesiale raadsitting te vra om die saak te bespreek.

Ntswaki Makhetha, munisipale woordvoerder, het nog nie op OFM Nuus se navrae gereageer nie. 

Babuile het aan OFM Nuus gesê die situasie by Matlosana is kommerwekkend en noem dat Seametso dit moontlik in die verlede ook suksesvol gedoen het.

Ramovha sê nog individue kan by die saak gevoeg word. Volgens Le Grange plaas die situasie besluitnemingsprosesse in ’n moeilike posisie aangesien sleutelpersone nie teenwoordig is in senior bestuursvergaderings nie.

“Die munisipaliteit is nie stabiel nie en ons is in finansiële nood aangesien die Eskom-rekening nie betaal kan word nie. Gevolglik is dit teleurstellend dat mense wat vertrou word, diegene is wat by die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur betrokke is.

OFM Nuus/Joba Matsheng dg/cg

(Menings en bewerings wat op X geplaas is en by dié berig ingesluit is, is nie noodwendig die mening van OFM Nuus nie. Dit weerspieël lede van die gemeenskap se mening.) 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.