Central SA
Hou jou troeteldiere só warm dié winter─── HEIDRÈ MALGAS 09:49 Fri, 21 Jun 2024

Talle Suid-Afrikaanse honde slaap buite, al is dit nie uit keuse nie maar uit nood.
Dit is belangrik om voorsiening te maak vir hulle soos nagtemperature daal, sê die Hillcrest-dierehospitaal. Onthou dis nie net mense wat koud kry wanneer die kwik daal nie.
‘Die winter bring sy eie unieke uitdagings mee’
Korthaartroeteldiere is meer kwesbaar, maar geen troeteldier moet te lank buite in die koue bly nie, aangesien dit hul gesondheid kan benadeel.
“Die winter bring sy eie unieke uitdagings mee,” sê Werner Botha, inspekteur vir die Bloemfonteinse DBV. “Ons stel die volgende wenke voor om te verseker dat jou geliefde troeteldiere gemaklik is tydens die koue.”
Die belangrikste sal altyd skuiling wees. Dit beteken ’n geskikte hondehok op die regte plek geplaas. Die motorhuis, ’n stoep, of enige plek wat verdere skuiling bied, sal reg wees en sal help om die ergste van die koue uit te hou.
Eienaars kan warm komberse aanskaf om nie net troeteldiere warm te hou nie, maar ook die hokke te isoleer.
’n Infrarooi lig kan ook ’n bykomende bron van hitte wees en kan aangeskaf word, maar maak net seker dit word op ’n veilige plek geplaas om nie enige beserings te veroorsaak nie.
Voëls moet binne in die huis gehou word en met komberse toegemaak word om te verseker hulle verkluim nie deur die koue nagte nie.
Eienaars moet ook seker maak dat hul diere se jaarlikse inentings op datum is, omdat sekere siektes meer prominent voorkom in die winter. Wat ook belangrik is, is om te verseker dat ouer diere so warm moontlik gehou word. Nes mense kry die heupe en bene swaar in die koue maande.
Dit is belangrik dat enige dier wat tekens van pyn of ongemak toon, na ’n plaaslike veearts geneem word.
Verseker jou troeteldier het ’n warm slaapplek:
Verseker dat hulle toegang het tot skuiling teen die wind en reën.
Plaas hul hondehokke met die agterkant na die heersende wind en, belangrikste van alles, maak seker hul beddens is gevoer en warm.
Voeg ekstra komberse by die beddegoed of belê in ’n trampolienbed, wat ideaal is omdat dit jou troeteldier van koue vloere sal oplig. Onthou om beddens buite plekke te plaas waar daar ’n trek kan wees.
Gee ’n bietjie ekstra kos, maar nie te veel nie aangesien jy nie wil hê jou troeteldier moet oorgewig word nie. Metaalwaterbakkies kan baie koud en onaantreklik word.
Oorweeg dit om in ’n verhitte matjie te belê as jy ’n ouer troeteldier met artritis, of ’n jonger troeteldier het – vir ekstra gemak.
Draai boontjiesakke, wat in die mikrogolf warm gemaak kan word, in komberse toe vir ekstra warmte.
As jou hond buite is en temperature begin daal, moenie vergeet om hulle in te bring nie.
Katte, as wesens van gemak, sal geneig wees om binnenshuis te bly wanneer dit koud is – of hulle nou op die bank lê of in ’n sonkolletjie voor die venster.
Maar as jy wilde katte in jou omgewing het, kyk altyd na die wiele van jou motor aangesien dit n gesellige slaapplek vir katte in die koue is.
Voeg ekstra beddegoed in hasehokke sodat die hasies daarin kan inkruip. Blokkeer enige moontlike trek met opgerolde koerante. As die voorkant van die hok met gaas bedek is, oorweeg dit om die helfte van die voorkant met ’n kombers te bedek.