On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Munisipaliteit inspekteer Upington se ondernemings en geboue

───   HEIDRÈ MALGAS 15:55 Fri, 21 Jun 2024

Munisipaliteit inspekteer Upington se ondernemings en geboue | News Article
Vernon Mfusi, senior bestuurder in die kantoor van die munisipale bestuurder, verduidelik die veiligheidsregulasies. Foto: Facebook

“Daar sal daadwerklik opgetree word teen winkels of eienaars wat nie aan die veiligheidsmaatreëls en ander regulasies voldoen nie.”

Amptenare wat bestaan uit die munisipale brandweer, polisie, bou-inspekteurs en munisipale wetstoepassers het sakeondernemings en geboue op Upington geïnspekteer om seker te maak hulle voldoen aan veiligheidsregulasies.

“Die verkeer, munisipale sekuriteit en verskeie ander departemente het ook deelgeneem aan die inspeksies. Dit het in Upington se middestad begin en sal weekliks in verskeie ander gebiede plaasvind,” sê Patrick Williams, Dawid Kruiper- munisipale woordvoerder.

Die span is gelei deur die kantoor van die munisipale bestuurder, dr. Elias Ntoba.

‘Ons het gekyk na padoppervlaktekens en slaggate’

Hy sê die rede vir die inspeksies is om seker te maak dat die geboue en ondernemings voldoen aan die bou- en veiligheidsregulasies, asook die munisipale verordeninge.

“Ons het verskillende winkels, stalletjies en taxistaanplekke besoek en ook gekyk na die toestand van die paaie in die dorp. Ons het gekyk na padoppervlaktekens en slaggate,” sê hy.

Hy sê die padoppervlaktekens gaan vervang word en dat die munisipaliteit ook seker gemaak het dat daar veiligheidstekens op verskillende punte is, asook geriewe vir mense met gestremdhede om van die dienste in die dorp gebruik te maak.

Johan Roos, bou-inspekteur, het van die geboue geïnspekteur. Foto Facebook

“Ons het deur die middedorp beweeg en daarna vergader ons om ’n verslag aan die munisipale bestuurder voor te lê. Daar sal daadwerklik opgetree word teen winkels of eienaars wat nie aan die veiligheidsmaatreëls en ander regulasies voldoen nie.” 

Hy sê dat hulle weekliks inspeksies in verskillende gebiede gaan doen en dit sal nou op ’n gereelde basis plaasvind. “Die verslag sal volgende week aan die munisipale bestuurder voorgelê word met voorstelle oor wat gedoen kan word in reaksie op die bevindinge van die groep.” 

‘Polisie moet veral saans meer sigbaar wees’

Facebook-kommentare van inwoners oor die inspeksie het ’n paar bekommernisse geopper. Santa Diergaardt sê: “Die polisie moet veral saans meer sigbaar wees! Praat ook met die winkeleienaars oor die toestand van die sypaadjies voor hul winkels, veral by Shoprite, waar die reuk onhoudbaar is. Eienaars behoort die omgewing voor hul winkels skoon te hou.”

OFM Nuus/ Heidrè Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.