On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-polisie ondersoek brand by Liberty Centre

───   ZENANDE MPAME 11:45 Sat, 22 Jun 2024

Welkom-polisie ondersoek brand by Liberty Centre | News Article
’n Brand het by die Amogela Mall, formeel bekend as Liberty Centre, uitgebreek. Foto: Facebook

“Amogela Mall, beter bekend as Liberty Centre, is ’n prominente landmerk in Welkom.”

Die Welkom-polisie het ’n ondersoek begin om die oorsaak van die brand vas te stel nadat dit by die Amogela Mall, formeel bekend as Liberty Centre, uitgebreek het.

Die brand het Vrydagmiddag (21/6) in Mooistraat gewoed en is deur die Haz Quip-brandreddingspan en Matjhabeng-brandweer- en reddingsdienste in bedwang gebring.


Die omvang van die skade wat deur die brand aangerig is, is nog nie bekend nie en geen beserings is aangemeld nie.

“Ons kan bevestig dat ’n navraag geregistreer is nadat die winkelsentrum in Mooistraat, Welkom, gebrand het. Verskeie winkels is daardeur geraak en glasdeure het weens die brand gebreek,” het Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder, gesê.

‘ ’n Deeglike ondersoek is begin en duur voort’

“Toe die polisie op die toneel aankom, het ’n werknemer van die Matjhabeng Munisipaliteit Brandweer en Redding die polisie ingelig dat die brand geblus is en niemand beseer is nie. ’n Deeglike ondersoek is begin en duur voort,” het hy gesê.

Amogela Mall het sy deure in September 1985 geopen en was een van die eerste winkelsentrums in Welkom.

Kasi Voice News berig die winkelsentrum is in 2021 verkoop nadat dit finansiële uitdagings ervaar het toe die Goldfields Mall sy deure oopgemaak het. Die winkelsentrum is glo vir 'n verbysterende bedrag van R35 miljoen verkoop.

Sosiale media-gebruikers op Facebook het bespiegel dat dit die dwelmgebruikers moes wees wat die brand veroorsaak het, aangesien die winkelsentrum ’n nes was vir diewe en dwelmgebruikers wat daar woon.

In Mei verlede jaar het 'n brand by ’n munisipale perseel in Vierdestraat uitgebreek en die lewens van drie ongeïdentifiseerde mense geëis.

‘Daar kon nie bepaal word of hulle manlik of vroulik was nie’

News24 berig die brand het die gebou gedurende die vroeë oggendure van Woensdag 3 Mei 2023 vernietig. Tydens ’n ondersoek is drie lyke gevind wat onherkenbaar verbrand is.

“Daar kon nie bepaal word of hulle manlik of vroulik was nie,” het Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, gesê. “Die polisie het bevestig dit was ’n munisipale stoorkamer waar nuwe watermeters, plastiekwaterpype en rakke met dokumente gehou is.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.