Central SA
Gewese Bloemfonteinse joernalis oorlede─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:33 Mon, 24 Jun 2024
“Haar werk was altyd puik en die jong mense kon baie by haar leer.”
’n Gewese joernalis en subredakteur van Bloemfontein is oorlede nadat sy tuis geval het.
Volgens haar man, Jan Bosman, het Petro Woensdag (19/6) in die motorhuis gegly en haar kop gestamp. Sy is daarna in die hospitaal in Durbanville opgeneem, waar die egpaar sedert 2001 woon. Die val het gelei tot bloeding op haar brein weens haar lae bloedplaatjietelling, hoewel dit nie die oorsaak van haar dood Sondag (23/6) was nie.
‘Die gewas het egter nie krimp nie’
“Petro het die afgelope twee jaar ’n stryd teen kanker gevoer nadat borskanker in April 2022 by haar gediagnoseer is. Sy was op ’n chemoterapiepil, wat aanvanklik gelyk het of dit werk, maar die gewas het nie gekrimp nie,” sê Bosman.
“As gevolg van haar lae bloedplaatjietelling kon dokters nie die chemopil ’n tweede keer vir haar gee nie.”

Jan en Petro Bosman. Foto verskaf
Petro het net voor haar dood vir ’n beenmurgbiopsie gegaan, maar die uitslae was voor haar dood nog nie bekend nie. ’n Internis het wel aan Bosman in die hospitaal gesê dat Petro se liggaam deurtrek was met die kanker.
Jan en Petro het mekaar in die vroeë 1990’s ontmoet terwyl hulle by Volksblad in Bloemfontein gewerk het en is in 1991 getroud. Hulle het in 2001 na die Kaap verhuis, waar Petro tot 2010 as joernalis en subredakteur by die Kaapse Media24-gemeenskapskoerant TygerBurger gewerk het.
‘Ons het baie plekke saam besoek’
Die egpaar het graag gereis. Jan beskryf sy vrou as “’n wonderlike reisgenoot”. “Ons het baie plekke saam besoek, maar New Orleans in die VSA en Hydra, ’n Griekse eiland, se herinneringe sal ek altyd koester.”
Petro het met prof. Lizette Rabe, emeritus professor en voormalige voorsitter van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, saamgewerk aan navorsing vir Naspers se eeufees, hoewel die projek nooit gepubliseer is nie. Sy het einde verlede jaar as taalspesialis by die privaatskoolgroep Curro se hoofkantoor afgetree.
Karen Herbert, ’n vriendin en oudkollega, beskryf Petro as ’n mense-mens met ’n groot omgeehart. “Haar werk was altyd puik en die jong mense kon baie by haar leer.”
OFM Nuus dg
