On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Onbekende man se liggaam in Upington gekry

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:46 Thu, 27 Jun 2024

Onbekende man se liggaam in Upington gekry | News Article
Foto iStock

Rosedale se polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek ná die dood van ’n onbekende, volwasse man.

’n Tot nog toe ongeïdentifiseerde man se liggaam is in Rosedale, Upington, gevind.

Rosedale se polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek ná die dood van ’n onbekende, volwasse man, sê lt.kol. Sergio Kock.

‘Daar was geen sigbare beserings nie’

“’n Verbyganger het Sondag (23/6) omstreeks 13:10 die oorledene in die straat gesien. Hy het die polisie in kennis gestel en die man is op die toneel dood verklaar.”

Volgens Kock het die man geen sigbare beserings gehad nie en geen misdaad word in hierdie stadium vermoed nie. ’n Lykskouing sal uitgevoer word om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Enigiemand met inligting kan speursers. Joey Visagie by 076 019 1715 kontak. Die ondersoek duur voort.

Intussen is ’n moordraaisel op die Vrystaatse Goudveld steeds nie opgelos nie nadat ’n man se liggaam op 26 Desember gevind is.

Die oorledende, Zithembile Brian Mgqeku (42), se liggaam is die dag ná Kersfees in 2023 omstreeks 08:40 in ’n oop stuk veld in Thabong gekry. Volgens Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, is Mgqeku se liggaam aan die agterkant van Edu College gevind. “Die oorledene het verskeie steekwonde aan sy kop, gesig en lyf gehad.”

Sy liggaam is deur sy tannie, wat in Ngabazelistraat, Thabong, woon, twee dae ná sy dood in die lykshuis uitgeken.

‘Jy hoef nie 24 uur te wag om iemand wat vermis word aan te meld nie’

“Voorlopige ondersoeke toon aan dat die oorledene op Kersdag omstreeks 20:00 na ’n nabygeleë sjebien gegaan het om bier te koop. Dit was die laaste keer wat hy gesien is.”

Indien iemand inligting het wat tot die inhegtenisneming van verdagtes kan lei, kan speursers. Modupe Thekiso van Welkom se eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad by 083 929 8149 of Stop Misdaad by 08600 10111 gebel word.

“Indien iemand na aan jou vermis word, moet jy dit by die polisie aanmeld sodra jy meen hulle word vermis. Jy hoef nie 24 uur te wag nie,” sê Thakeng.

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.