On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Emfuleni-munisipaliteit sukkel om salarisverhogings te betaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Wed, 10 Jul 2024

Emfuleni-munisipaliteit sukkel om salarisverhogings te betaal | News Article
Foto verskaf

“Die munisipaliteit het nie die geld om hierdie verhoging te dek nie.”

‘n Balju het Dinsdagoggend (9/7) beslag gelê op ‘n groot deel van die Emfuleni-munisipaliteit se voertuie. 

Gerda Senekal, VF Plus-raadslid, sê dit volg ná ‘n jare lange arbeidsgeskil. “Die afgelope drie tot vier jaar het die munisipaliteit van 'n graad C- na 'n graad B-munisipaliteit oorgeskakel. Hierdie oorskakeling het aanpassings in salarisskale en posvlakke genoodsaak weens die munisipaliteit se groei. ’n Spesifieke posvlak is egter nie in daardie stadium aangepas nie wat werknemers op posvlakke sewe en nege genoop het om die munisipaliteit hof toe te vat. Die hof het in die guns van die werknemers beslis en aanpassings vereis.”

‘Dit was sonder die ooreenstemmende voordele’

Senekal sê hoewel die werknemers wel opgeskuif het na hul toepaslike posvlak was dit sonder die ooreenstemmende voordele, soos verhoogde salarisse, motortoelaes en bydraes tot behuising en mediese fondse.

Die werknemers het weer hof toe gegaan wat gelei het tot 'n uitspraak wat die munisipaliteit dwing om die verskuldigde bedrae te betaal. Terwyl 'n gedeeltelike betaling gemaak is kon die munisipaliteit weens begrotingsbeperkings nie die volle bedrag dek nie.

Gerda Senekal, VF Plus-raadslid. Foto Facebook

“Dinsdag (9/7) is daar gepoog om die munisipaliteit se bankrekening te bevries om te verseker dat salarisse betaal word. Dié aksie is gestaak en Emfuleni het daarin geslaag om 'n gedeelte van wat verskuldig was te betaal..”

Senekal sê daar is onverwags 'n kort kennisgewing gegee dat daar beslag gelê sal word op voertuie weens die uitstaande betalings. “Daar was nie eers ‘n behoorlike kennisgewing wat gewoonlik sewe dae behoort te wees en daar was ook ‘n gebrek aan optreding by die regsafdeling.”

Nog ’n kwessie is die begroting. Ten spyte van versoeke is geen koste-reflekterende begroting deur die Departement van Finansies verskaf nie. “Hierdie dispuut het daartoe gelei dat 'n bykomende R7 miljoen  by die maandelikse salarisuitgawe gevoeg is wat reeds op R124 miljoen staan.

‘Ooreenkoms is glo bereik’

“Die munisipaliteit het nie die geld om hierdie verhoging te dek nie.”

Hoewel ’n ooreenkoms glo bereik is, is die besonderhede nog onbekend. Die voertuie is terugbesorg maar Senekal bly skepties oor 'n vinnige oplossing.


“In totaal bly meer as R130 miljoen uitstaande vir hierdie werknemers met die bykomende R7 miljoen wat die munisipaliteit se finansiële situasie verder bemoeilik. Hierdie verhoging is nie in hierdie finansiële jaar se begroting verreken nie wat 'n beduidende uitdaging vorentoe bied.”

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.