On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Krisisberaad in Qwaqwa oor hospitaal se tekort aan water, elektrisiteit

───   HEIDRÈ MALGAS 10:47 Thu, 11 Jul 2024

Krisisberaad in Qwaqwa oor hospitaal se tekort aan water, elektrisiteit | News Article
Mofumahadi Manapo Mopeli-streekshospitaal. Foto: Facebook

“Gesprekke is met die betrokke owerhede in Maluti-a-Phofung geïnisieer om ’n vinnige en volhoubare oplossing te vind.”

Die LUR vir Gesondheid in die Vrystaat het die Mofumahadi Manapo Mopeli Streekshospitaal in Qwaqwa besoek om die deurlopende stryd met water- en elektrisiteitsvoorsiening aan te spreek.

“LUR Monyatso Mahlatsi het gesprekke met die betrokke owerhede in Maluti-a-Phofung geïnisieer om ’n vinnige en volhoubare oplossing te vind vir die langdurige onaanvaarbare toestande by Mofumahadi Manapo Mopeli-streekshospitaal, veral met betrekking tot die onbetroubare water- en elektrisiteitsvoorsiening,” het Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gesondheid, gesê.

Op Saterdag (6/7) het Mahlatsi ’n vergadering met sleutelbelanghebbendes belê. Deelnemers het verteenwoordigers van die Departement van Gesondheid (Hoofkantoor, Thabo Mofutsanyana Distrik, asook die Bestuur en Hospitaalraad van Mofumahadi Manapo Mopeli), die Departement van Water en Sanitasie, Vaalwater, Maluti-a-Phofung Munisipaliteit, Maluti-a-Phofung Water en Eskom ingesluit.

“Die LUR het die doel van die vergadering uiteengesit en die noodsaaklikheid beklemtoon om alle knelpunte op te los wat die soomlose lewering van water en elektrisiteit, wat noodsaaklik is vir gesondheidsorgdienste, belemmer.”

‘LUR spreek dringende behoefte uit’

Mahlatsi het die dringende behoefte van alle belanghebbendes uitgespreek om die onmiddellike herstel van betroubare water- en elektrisiteitsvoorsiening te verseker, terwyl ook langtermynoplossings vir hierdie probleme beplan word.

Tydens die hoëvlakbesprekings het belanghebbendes waardevolle bydraes gelewer. Die vergadering het tot die gevolgtrekking gekom dat 'n tegniese span op Donderdag (11/7) die Manapo-hospitaal sal besoek om korttermynoplossings te implementeer en langtermynplanne vir ’n volhoubare oplossing van die krisis uit te stippel, ten einde te verseker dat hierdie noodsaaklike dienste nie langer onderbreek word nie.


Daar is ooreengekom dat die volgende belanghebbendes hul tegniese spanne sal ontplooi om die probleem aan te spreek:

- Departement van Gesondheid

- Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur

- Vaalwater Raad

- COGTA

- Maluti-a-Phofung Munisipaliteit en Water Entiteit

- Eskom

- Departement van Water en Sanitasie

Hierdie aksie-georiënteerde span sal op Vrydag (12/7) 2024 aan die LUR vir Gesondheid verslag doen, deur die HOD vir Gesondheid. Daarna sal ’n vergadering tussen die LUR en die Uitvoerende Bestuur op Maandag (15/7) plaasvind om die aanbevelings wat deur hierdie span verskaf is te bespreek en te implementeer.

Die voormalige LUR van Gesondheid, Mathabo Leeto, het ook verlede jaar probleme aangespreek.

“Ons vasberadenheid om hindernisse in dienslewering op te los is onwrikbaar. Ons is verbind tot die diens van ons mense en om ’n verskil in hul lewens te maak, wat ’n gesonder en meer voorspoedige Vrystaat-provinsie verseker,” het LUR Mahlatsi afgesluit.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.